
Komkommer en jogurt is die onontbeerlike bestanddele om hierdie ligter en gesonder koolslaai sonder enige mayonnaise te maak. Al die geure van Griekeland kom met dié vars vis op jou bord byeen!
Vir 4 | Voorbereityd 15 minute | Gaarmaaktyd 10-15 minute
Jy benodig
- 500 g vars witvisfilette (ongeveer 125 g per persoon)
- seesout en swartpeper na smaak
- 1 eetlepel olyfolie
Vir die tzatziki-koolslaai
- ½ Engelse komkommer, deurgesny en pitjies uitgekrap
- 2 koppies kool, baie fyn gesny
- 1½ koppie Griekse jogurt
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- ½ teelepel sout
- 1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
Vir die Griekse sous
- 1 koppie kalamata-olywe, grofgekap
- 2 eetlepels kappertjiesaad, grofgekap
- 1 koppie kersietamaties, grofgekap
- ½ koppie olyfolie
- 1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
- ½ koppie pietersielie, fyngekap
Só maak jy
1 Besprinkel die vis met sout, peper en olyfolie en hou dit eenkant.
2 Rasper die komkommer met skil en al. Druk enige water uit die gerasperde komkommer om te verhoed dat die tzatziki waterig is. Meng dan die komkommer met die kool, jogurt, knoffel en sout. Voeg die suurlemoensap en -skil daarby.
3 Berei die Griekse sous deur al die bestanddele daarvoor goed te meng en eenkant te laat rus.
4 Braai die vis (velkant eerste na onder) vir sowat 10 minute oor die kole of in ’n warm pan. Sodra die vis begin wit verkleur, kan jy dit omdraai en vir nog sowat 2 minute met die vleiskant na onder braai. Dis gaar as dit maklik vlok.
5 Skep die Griekse sous oor die vis en sit voor saam met die koolslaai.