Gesonde plaatkoekies

akkreditasie
Bêre die mengsel in die yskas en voeg net elke oggend ’n eier en ’n koppie melk by die bietjie wat jy wil gebruik – dis so maklik soos roereier maak!

Bêre die mengsel in die yskas en voeg net elke oggend ’n eier en ’n koppie melk by die bietjie wat jy wil gebruik – dis so maklik soos roereier maak!

Sit die pannekoekies warm voor met heuning of karamel. Soutige vulsels soos roomkaas en gerookte salm smaak ook baie lekker – veral as die pannekoek eers afgekoel het.

Jy benodig
Vir die bêremengsel (lewer 10 koppies)

2½ koppies gerolde hawermout (die gewone soort, nie kits)
3 koppies volgraanmeel
2½ koppies broodmeel
¼ koppie ligte bruinsuiker
1 eetlepel koeksoda
1 eetlepel bakpoeier
1 eetlepel growwe sout
1 koppie olyfolie

Só maak jy

1. Pols die hawermout in ’n voedselverwerker tot fyn en gooi dit saam met die res van die droë bestanddele in ’n elektriese menger met ’n K-hak. Skakel die menger aan en skink die olyfolie stadig in ’n dun straaltjie by tot dit heeltemal gemeng is.

2. Stoor die mengsel in ’n lugdigte houer of Ziploc-sakkies. Dit sal buite die yskas vir 3 weke goed hou, en verkoel tot selfs 6 weke. Of vries die mengsel in koppie-grootte porsies om te gebruik soos benodig.

Jy benodig
Vir ’n baksel van 6-8 pannekoekies

1 koppie pannekoekbêremengsel 
1 koppie karringmelk (gewone jogurt of melk werk ook)
1 groot eier
botter vir braai

Só maak jy 

1. Meng die droë mengsel, karringmelk en eier saam. (Sprinkel ’n ekstra knippie sout by indien jy ’n soutiger pannekoek verkies.) Laat staan die deeg vir 5 minute om ’n bietjie te verdik. (Indien jy dit met gewone melk maak, moet jy dit 10 minute laat staan.) 
2. Smelt ’n klontjie botter in ’n pan en skep twee eetlepels van die mengsel per pannekoekie daarin. Braai tot goudbruin aan die onderkant voordat jy die pannekoek omdop en die ander kant ook vinnig ’n kleurtjie gee.