book-icon Uitgawe Bordbreeklekker!

Griekse hoender-en-groentesosaties

akkreditasie
Jac Kritzinger
Die Grieke hou – net soos ons – van lekker eet en lekker kuier...

Maak genoeg van hierdie sosaties, want iemand gaan beslis nóg een wil hê.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • gerasperde skil van 2 suurlemoene
  • 2 teelepels heuning
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 2 hoenderborsfilette sonder vel of been, in blokkies van 2 cm gesny
  • 1 klein komkommer, gerasper
  • 1 koppie gewone jogurt
  • 200 g fetakaas, gekrummel
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 250 g kersietamaties
  • 1 groot murgpampoentjie, in ringe gesny
  • 1 rooiui, in kwarte gesny
  • ’n hand vol mentblare

Só maak jy

1. Meng die knoffel, skil van 1 suurlemoen, heuning en olyfolie. Geur die hoender met sout en peper en marineer dit vir ’n halfuur in die sous.

2. Druk die vloeistof uit die komkommer en meng die komkommervleis dan met die jogurt, feta en die skil van 1 suurlemoen. Geur die mengsel met sout en peper. Hou dié doopsous eenkant.

3. Ryg die hoenderblokkies, kersietamaties, murgpampoentjie en ui op 4 stokkies en braai die sosaties vir 5-7 minute aan ’n kant op die rooster totdat hulle goudbruin en gaar is. Sit dit voor met die doopsous en vars mentblare.