Kaas-en-vrugte-muffins

akkreditasie
Dié muffins is nie te soet nie. Sit dit in die kinders se kosblik skool toe of sit dit voor saam met kaas en konfyt by ’n aftrekplek langs die N1 op pad see toe.

Maak 9 muffins

Voorbereityd 20 minute

Gaarmaaktyd 40 minute

Jy benodig

  • 1 koppie koekmeel
  • 1 koppie bruinmeel
  • 1 teelepel bakpoeier
  • ½ teelepel sout
  • ½ teelepel fyn wonderpeper (all spice)
  • ¼ teelepel fyn kaneel
  • 2 eiers
  • ½ koppie heuning
  • 3 eetlepels olyfolie
  • ¼ koppie gewone jogurt
  • 2 koppies gerasperde peer of appel
  • 1 koppie grofgerasperde beleë cheddarkaas

Só maak jy

1 Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n muffinpan met 9 holtes met kleefwerende sproei en voer dit uit met bakpapier.

2 Sif die droë bestanddele in ’n mengbak saam. Meng die eiers, heuning, olyfolie en jogurt goed en roer dit deur die droë mengsel. Roer die gerasperde vrugte en kaas deur tot net-net gemeng.

3 Skep die beslag uit in die muffinpan en bak dit vir 40 minute of totdat ’n toetspen skoon uitkom. Verlaag die temperatuur vir die laaste 15 minute tot 170 °C.