
Jy benodig
(genoeg vir 12)
• 3½ koppies (500 g) koekmeel
• 1 pakkie (10 g) kitsgis
• 1 teelepel sout
• 3 eetlepels suiker
• 60 g botter, gesmelt
• 1¼ koppie (300 g) louwarm melk
• 1 blikkie (385 g) karamel
• 1 koppie roomkaas
• 1 koppie (100 g) pekanneute, liggies gerooster en grofgekap
Só maak jy
1. Meng die koekmeel, gis, sout en suiker in ’n mengbak saam en voeg die botter en melk by. Roer dit saam tot dit ’n deeg vorm en knie dit dan vir 8-10 minute tot lekker glad en elasties. Bedek die mengbak en laat die deeg vir ’n uur rys tot dubbel die volume.
2. Meng die karamel en roomkaas in ’n mengbak saam.
3. Sprinkel meel op ’n werkblad en rol die deeg uit tot ’n reghoek van sowat 30 x 40 cm. Smeer die helfte van karamelmengsel oor die deeg en sprinkel dan die helfte van die pekanneute bo-oor. Rol nou die deeg op in ’n lang rol, sny dit in 12 ewe groot stukke en druk hulle effens plat.
4. Braai die roosterkoeke oor stadige kole vir 10-15 minute aan elke kant tot goudbruin en gaar. Sit dit warm voor met die res van die karamelmengsel en neute.
Ry & Sleep sê: Jy kan ook die roosterkoek in ’n braaipan of geriffelde pan gaarmaak – bak hulle tot mooi goudbruin en gaar.