Framboosbroodjie

akkreditasie
Jac Kritzinger
Bak ’n bessiebrood en eet dit net so óf met roomkaas en konfyt.

Jy benodig

(maak 1 broodjie)

• ½ koppie (125 ml) olie
• 1 koppie (250 ml) suiker
• 1 koppie (250 ml) gewone jogurt 
• 3 eiers 
• sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
• 1½ koppie (375 ml) koekmeel
• 2 teelepels (10 ml) bakpoeier
• ’n knippie sout
• 1 koppie (250 ml) vars of bevrore frambose (of gebruik enige ander bessies)

Só maak jy

1. Meng die olie, suiker, jogurt, eiers en suurlemoensap en -skil. Sif die meel, bakpoeier en sout in ’n aparte bak saam en vou dit by die nat bestanddele in. Roer die frambose versigtig deur die deeg.

2. Skep die deeg in ’n gietysterbroodpannetjie en bak die brood vir sowat 40 minute oor louwarm kole tot goudbruin gaar. Onthou om ’n paar kole op die deksel te sit.

Weg Ry & Sleep sê:
Die kole moet nie te warm wees nie, want met die suiker in die deeg brand dié broodjie maklik.