Deel

Pastei en tjips op die vuur

akkreditasie
Hoenderpastei is altyd ’n wenner, maar veral in die winter. Hierdie een kan jy een op die kole maak.

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)

VIR DIE PASTEI
• 1 gaar hoender, die vleis gevlok en die vel fyn opgesny
• 2 soetmielies, gekook en die pitjies van die stronk af gesny
• ½ pakkie (125 g) repiespek, fyngekap 
• 1 houertjie (250 ml) suurroom
• 1 eetlepel gekapte vars pietersielie
• sout en peper na smaak 
• 1 rol gekoopte blaardeeg

VIR DIE TJIPS
• 6 gaar aartappels, in kwarte gesny
• 3 eetlepels olie
• 2 takkies roosmaryn, fyngekap
• 3 heel knoffelhuisies
• sout en peper

Só maak jy

1. Maak ’n vuur vir matige kole wat minstens ’n uur gaan hou. Meng al die bestanddele vir die pastei (behalwe die blaardeeg) saam en geur dit na smaak met sout en peper. Skep die mengsel in ’n platboomgietysterpot met ’n deursnee van 24 cm.

2. Sny die deeg sodat dit bo-op die vulsel in die potjie pas. Druk dit teen die kante vas en sit die pot se deksel op.

3. Sit die potjie op die kole en skep ’n paar kole op die deksel. Bak die pastei vir ongeveer ’n driekwartier – vervang elke nou en dan van die flou kole. Die deeg moet geleidelik gaar en goudbruin word. 

4. Braai die aartappelwiggies in ’n pan langsaan sodat die hoender en tjips uiteindelik saam gaar is.