Deel

RESEP | Klewerige kortrib

akkreditasie
Hou die jammerlappies reg – hierdie ribbetjies het ’n taai braaisousie aan die buitekant.

Jy benodig (genoeg vir 4-6)

• 2 kg beeskortrib, in lengtes van 5 cm gesny
• 1 eetlepel paprika
• 1 eetlepel bruinsuiker
• 1 teelepel fyn komynsaad
• 1 teelepel rissievlokkies 
• 1 eetlepel sout
• ½ teelepel fyn swartpeper
• 1 botteltjie (340 ml) bier
• ½ koppie BBQ-sous

Só maak jy

1. Geur die ribbetjies deur die speserye oraloor daarin te vryf. Pak die ribstukke in die middel van ’n dubbele vel foelie wat groot genoeg is dat jy die vleis behoorlik kan toevou.

2. Vou die foelie toe, maar los ’n gaatjie waardeur jy die bier kan gooi (sonder om dit direk op die ribstukkies te gooi en die speserye af te spoel). Gooi die bier versigtig in en maak die foeliepakkie stewig toe.

3. Stoom die ribstukke vir sowat twee uur oor matige kole. Gooi die vloeistof af en verf die ribbetjies met die braaisous. Braai dit dan vir 10-15 minute op die rooster totdat die braaisous karameliseer.

Weg Ry & Sleep sê: As jy jou ribbetjies à la die Spur langs die kampvuur wil eet, kan jy aartappeltjips daarby maak – sommer in kokende olie in jou driepootpotjie.