Kondensmelk-en-grondboontjiefudge

akkreditasie
Jy kan dié lekkerny vir nagereg eet, óf sommer terwyl jy Dana Snyman se nuwe boek vroegmiddag in jou kampstoel sit en lees.

Jy benodig

(maak 20-24 blokkies) 

  • 2 koppies suiker 
  • 1 blikkie (385 g) kondensmelk 
  • 150 ml melk 
  • ½ koppie (125 g) botter 
  • ½ pakkie (100 g) koekies van jou keuse, grofgekrummel 
  • ½ koppie gesoute grondboontjies

Só maak jy

1 Verhit die suiker saam met die kondensmelk, melk en botter oor lae hitte in ’n swaarboompot. Bring dié mengsel stadig tot kookpunt en laat dit vir 10-15 minute prut terwyl jy dit die heeltyd op die potbodem roer. Toets of die fudge reg is deur ’n druppel van die mengsel in ’n koppie yskoue water te gooi. As dit ’n bolletjie vorm en nie oplos nie, is jou fudge gereed.

Klop die mengsel in die pot vinnig tot dit dik is en begin stol. Roer die koekiestukkies en grondboontjies vinnig deur die fudge. Gooi die mengsel in ’n plat gesmeerde bak van 20 x 20 cm en laat dit vir ’n uur of twee stol.

Sny die fudge in blokkies en bêre dit in ’n lugdigte houer.

Ry & Sleep sê
Die ou staatmakers Marie- of Tennis-beskuitjies werk goed vir dié fudge.