Deel

Brandewyn-en-appelkoek

akkreditasie
Luuks
Luuks
Die koek kan jy toedraai en vir twee dae teen kamertemperatuur gebêre word.

Jy benodig

  • 1/3 koppie goue sultanas
  • ¼ koppie brandewyn
  • 2-3 appels
  • 1½ koppies ligbruinsuiker
  • 1 suurlemoen se gerasperde skil
  • ¾ koppie gekapte pekanneute of amandels
  • 1 teelepel Chinese 5 Spice(of 1 teelepel elk fyn kaneel en gemmer)
  • ½ teelepel fyn wonderpeper (all spice)
  • 3 eiers, kamertemperatuur
  • 100 ml olyf- of klapperolie
  • 1 koppie meel, opgehoop
  • ½ teelepel bakpoeier

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer die bodem van ’n 20 cm-losboomkoekpan uit met bakpapier en smeer die pan met botter.

2. Gooi die brandewyn oor die sultanas en laat staan vir ongeveer 30 minute, dreineer en hou die brandewyn vir later. Sny die appels in papierdun skyfies.

3. Meng ¾ koppie suiker, die suurlemoenskil, neute en speserye in ’n bak en hou dit eenkant.

4. Klits die eiers in ’n elektriese menger, en voeg dan die oorblywende ¾ koppie suiker ’n eetlepel op ’n slag daarby en klits tot dik en liggeel. Klits die olie en brandewyn daarby in tot gemeng. Meng die meel en bakpoeier en vou dit liggies in met die hand.

5. Skraap die helfte van die beslag in die koekpan. Pak die helfte van die appelskyfies daarop en versprei dan die helfte van die sultanas en die helfte van die neutmengsel daaroor; herhaal. Moenie kommer as die mengsel bo die koekpan uitsteek nie, dit is reg so.

6. Bak die koek vir 1 uur of totdat die koek effens van die kante wegtrek en die bokant begin karamelliseer. Loer en sit terug in die oond vir nog 15 minute indien dit nog nie reg is nie.

7. Verwyder die koek uit die oond en plaas ’n sirkel bakpapier bo-op. Druk die koek egalig met jou hande platter. Laat die koek heeltemal afkoel en verwyder dit uit die koekpan. Dit móét vir drie uur rus voor dit gesny word.