book-icon Uitgawe Oktober 2019

Hoenderhappies met ’n kerriesitrussous

akkreditasie
Moenie bekommerd wees nie: Die suiker in dié resep maak die vlerkies glad nie te soet nie.

FOTO'S: Ed O'Riley

Genoeg vir: 6-8 as voorgereg

Bereidingstyd: 15 minute plus 1 uur marineertyd

Gaarmaaktyd: Sowat 25 minute

Jy benodig

• 24 hoendervlerkies

• sap en gerasperde skil van 1 lemoen

• sap en gerasperde skil van 1 lemmetjie

• 2 brandrissies (of na smaak), fyngekap

• 1 eetlepel matige kerriepoeier

• 2 knoffelhuisies, fyngedruk

• 1 stuk gemmer van 2 cm, fyngerasper

• 1 bossie vars koljander, gekap

• ’n paar takkies vars tiemie (of ½ teelepel droë tiemie)

• 2 eetlepels bruinsuiker

• 2 eetlepels olyfolie

Só maak jy

1. Gebruik ’n skerp kombuisskêr om die vlerkies se punte af te knip – dis geneig om aan die rooster vas te brand. Knip die vlerkies dan in die lit in twee stukke.

2. Meng die res van die bestanddele en laat die hoenderstukkies vir minstens ’n uur daarin marineer.

3. Kry intussen matige kole reg. Braai dan die hoender vir 15-20 minute lekker hoog bo die kole sodat dit stadig gaar word. (Hier moet die braaier wakker slaap – onthou, die suiker in die sousie kan die vel laat skroei voordat die hoender gaar is.) Verf nog ’n bietjie sous aan elke stukkie, laat sak die rooster en braai dit vir nog 5-10 minute om seker te maak die hoender kry kleur en die sous karamelliseer.