Vir 1 klein brood | Voorbereityd 5 minute | Baktyd 35 minute
Jy benodig
3 koppies meel (sien wenk hieronder)
1½ teelepels sout
½ teelepel droë kitsgis
1½ koppie louwarm water, plus ekstra
So maak jy
1. Meng die meel, sout en gis in ’n groot bak – groot genoeg dat die deeg kan rys. Voeg die louwarm water by en roer alles met ’n houtlepel tot gemeng. Voeg nog ’n skeut of twee water by, indien nodig.
2. Bedek die bak met kleefplastiek en laat staan dit vir 12 uur buite die yskas.
3. Die volgende dag voorverhit jy die oond tot 230 °C óf kry kole in ’n ketelbraai of oop braaiplek gereed.
4. Keer die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en vorm ’n bol (dit sal taamlik taai wees). Bedek die deegbol losweg met kleefplastiek en laat dit vir 30 minute rus. Sit ’n swartpotjie (minstens nr. 2) leeg oor die kole óf in die oond vir ten minste 30 minute om warm te raak.
5. Sny met ’n skerp mes ’n kruispatroon bo-op die deegbol. Haal die vuurwarm swartpot versigtig van die hitte af, tel die deegbol versigtig daarin en sit die deksel op.
6. Sit die pot in die voorafverhitte oond of ketelbraai met die deksel op. Of plaas die pot op ’n braaidriehoek oor ’n laag warm kole en skep ’n paar kole bo-op die potdeksel. Die brood behoort ná 35 minute gaar te wees. Aangesien oonde verskil, toets eers of die brood gaar is. Indien nie, plaas dit terug in die oond/kole vir nog 10 minute.