RESEP | Pasta met romerige botterskorsiesous

akkreditasie
Dié sous is maklik – gooi alles in die pot en kook dit! Jy kan dit oor pasta gooi óf net so as ’n sop voorsit.

Vir: 6 | Voorbereityd: 30 minute | Gaarmaaktyd: 15 minute

Jy benodig

VIR DIE SOUS/SOP

• 4 eetlepels botter
• 10 vars salieblare
• 500 g botterskorsie, in blokkies gesny
• 1 ui, gekap
• 1½ koppie (375 ml) hoenderaftreksel
• gemaalde swartpeper
• sout
• ½ koppie room

VIR DIE PASTA

• 500 g penne-pasta
• ½ koppie room
• 125 g mozzarella, gerasper
• 50 g parmesaan
• 250 g varkworsies, gebraai (opsioneel)

Só maak jy

1. Verhit die botter in ’n groot kastrol totdat dit begin borrel en voeg die salie by. Roer dan die  botterskorsie, ui en aftreksel daarby en geur dit na smaak met swartpeper. Laat dit vir sowat 20 minute sonder ’n deksel prut tot die botterskorsie sag is. 

2. Pols die botterskorsie met ’n staafmenger fyn totdat jy ’n dik sous het. Roer die room by. Proe en geur dit na smaak met sout en swartpeper. Dis nou gereed as ’n sop.

3. Maak die pasta Verhit die oond tot 200 ºC. Kook die pasta intussen in water met ’n bietjie sout vir 5 minute en dreineer dit. Gooi die pasta in ’n oondbak en skink die botterskorsiesous bo-oor. Voeg die room, die helfte van die kase en die worsies by en roer dit goed deur. Sprinkel die oorblywende kaas bo-oor.

4. Bak die pasta vir 10-15 minute tot goudbruin. (Of vries die ongebakte pasta vir later – laat dit net eers goed ontdooi voordat jy dit bak.)