Patats met jogurtkaas

akkreditasie
Foto: Myburgh du Plessis
Foto: Myburgh du Plessis
Die Franse noem dit “en papillote” – wanneer jy kos in ’n pakkie gaarmaak. Dit hou die kos sappig en konsentreer die geure. Die beste nuus is jy kan dit ook oor die kole doen.

Patatplesier

Jogurtkaas kan jy enige plek maak. Jy dreineer bloot dik ongegeurde jogurt oornag buite ’n yskas in ’n vadoek. Die volgende dag eet jy die kaas met gebakte patats uit die vuur.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 kg Griekse jogurt
  • ¼ koppie olyfolie
  • 1 teelepel brandrissievlokkies
  • 1 teelepel vars tiemieblaartjies
  • 2 eetlepels gekapte pietersielie
  • 6 patats
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Gooi die jogurt in ’n skoon vadoek, bring die punte van die doek bymekaar en hang die vadoek iewers buite die yskas op met ’n bak onder dit. Laat dit oornag dreineer. Krap die jogurt die volgende oggend uit en sit dit in die yskas.

2 Verhit die olyfolie, rissievlokkies, tiemie en pietersielie saam tot lou – dit moenie kook nie. Haal dit van die hitte af en hou dit eenkant.

3 Draai die patats in foelie toe en bak dit oor matige kole tot sag.

4 Bedien die gebakte patats met die jogurtkaas en die gegeurde olie.

Ry & Sleep sê
Die jogurtkaas wat jy nie dadelik eet nie, kan jy in bolletjies rol en in ’n glasflessie pak. Bedek dit met olyfolie en hou dit vir 1-2 weke in die yskas. (Foto hieronder)