Peri-peri-vlinderhoender

akkreditasie
Dis nie so moeilik om ’n hoender op die kole te braai nie – jy moet net sorg dat die kole nie te warm is nie. As die kole te warm is, sal die vel brand en die res is nog rou binne. As jy steeds katvoet is, gebruik eerder hoenderporsies; dit word vinniger gaar as ’n heel hoender.

Jy benodig

  • 3 eetlepels botter
  • 3 teelepels gemaalde droë rissies
  • 1 vars suurlemoen se sap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 teelepel paprika
  • 2 teelepels olyfolie
  • 1 teelepel sout
  • 1 x 1,5 kg-vlinderhoender

Vir die sous

  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 eetlepels botter
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 teelepel gemaalde droë rissies
  • ½ vars suurlemoensap se sap
  • 1 teelepel droë pietersielie

So maak jy

Geur die hoender Meng die botter, rissies, suurlemoensap, knoffel, paprika, olie en sout. Vryf dit aan albei kante van die hoender en laat dit oornag in die yskas marineer.

Braai tot die hoender deurgaar is. Dit neem gewoonlik 1½ uur om tot op die been gaar te kom. Sorg dat die rooster redelik hoog bokant die kole is, anders sal die hoender brand lank voordat dit gaar is.

Vir die sous Smelt die botter in ’n kastrolletjie en voeg die olyfolie en knoffel by. Soteer vir 2 minute oor lae hitte. Maak seker die knoffel brand nie.

Haal die knoffel met ’n lepel uit die olie en voeg die res van die bestanddele by.

Bedruip die hoender met die sous sodra dit gaar is, of sit die sous in ’n bakkie voor sodat elkeen homself kan help.