Pofferpannekoek

akkreditasie
Anders as ’n normale pannekoek, sny jy hierdie een in skywe soos ’n tert – dis lig maar vullend!

Hierdie dik pannekoek word ook ’n Hollandse pannekoek of ’n “Dutch Baby” genoem. Die geheim is dat jy ’n gietysterpan of -pot gebruik en dit voor die tyd baie warm moet maak.

Maak genoeg vir 2-4 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 15 minute 

Jy benodig

• 3 groot eiers, teen kamertemperatuur
• 2/3 koppie melk, teen kamertemperatuur
• 2 eetlepels suiker
• ½ eetlepel sout
• ½ eetlepel vanieljegeursel
• ½ koppie meel
• 2 eetlepels botter

Só maak jy

1. Sorg dat die eiers en melk kamertemperatuur is. Kies ’n gietysterpan of platboompot van 20 cm wyd. Plaas die pan met deksel op ’n braaidriehoek oor baie warm kole en sit ook ’n paar kole op die deksel.

2. Klits intussen die eiers en voeg die melk, suiker, sout en vanielje daarby en klits dit goed. Sif die mielieblom daarby, roer deur, en laat die mengsel vir 10 minute rus terwyl die pan warm raak.

3. Wanneer die pan of pot rookwarm is, verwyder die deksel, maar los die pot op die kole. Smelt die botter in die pot en sodra dit begin borrel, gooi die beslag in die pot. Sit dadelik die deksel terug, en sit ’n paar warm kole op die deksel. Verwyder die pot en deksel ná 12-15 minute. Die pannekoek sal opgepof en goud van kleur wees.

4. Bedien dit dadelik met varsgesnyde vye en witsjokolade.  

WENK Jy kan dit ook bak in ’n oop, voorafverhitte warm pan in ’n oond van 210 °C vir 15 minute.