Semelbeskuit met aangesuurde melk

akkreditasie
Wat is nou lekkerder as om op ’n stil oggend voor die wa te sit met ’n stomende koffie en ’n blik beskuit? En dié beskuit is boonop goed vir jou, want dit kry min suiker en geen botter.

Jy benodig

  • 1 kg bruismeel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • 2 teelepels sout
  • 350 g margarien
  • ½ koppie suiker
  • 150 g semels
  • 3 ekstragroot eiers
  • 560 ml aangesuurde melk (jy kan ook karringmelk of jogurt gebruik)

Só maak jy

1 Verhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n standaardgrootte oondpan met botter.

Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Vryf dan die margarien met jou vingerpunte daarby in totdat die mengsel soos droë broodkrummels lyk.

3 Meng die suiker en semels goed en meng dit met die meelmengsel. 

Klits die eiers en melk saam. Skink dit by die droë bestanddele en dit meng dit deur totdat dit ’n deeg vorm. Skep die deeg in die oondpan.

5 Bak dit vir sowat 50 minute.

Keer die beskuit op ’n draadrak uit om af te koel. Sny dit in blokkies en laat dit oornag in ’n oond van 50 °C uitdroog.

Maak jou eie suurmelk

As jou laaitie op universiteit maar net weet watse lekker beskuit hy kan maak met die suur melk in sy yskas... Maar jy hoef nie ’n bottel vir weke in die yskas weg te steek om jou eie aangesuurde melk te maak nie.

So maak jy

Voeg 3 eetlepels suurlemoensap by 1 liter vars melk. (Jy kan ook asyn gebruik, maar die suurlemoen sorg vir ’n lekkerder geur.)

Laat staan die mengsel vir 10-15 minute. 

Ry & Sleep sê
Jy kan die deeg ook in bolletjies rol wat jy teen mekaar in die oondpan pak. Dan kan jy net die beskuite losbreek voordat jy dit droog.