Seslaagkoekies

akkreditasie
Sprinkel alles in lae op ’n bakplaat en siedaar! ’n Bakplaat vol lekkerte om skool toe te stuur.

Vir 24 stukke | Voorbereityd: 15 minute | Baktyd: 30 minute

Jy benodig 

  • ½ koppie (125 g) botter, in blokkies gekap
  • 1½ koppie koekies, gekrummel (Tennis-beskuitjies)
  • 200 g donkersjokolade, fyn gekap
  • 1 koppie gladde onversoete grondboontjiebotter1½ koppie klapper
  • 2 koppies malvalekkers, gekap
  • 1 blik (410 g) kondensmelk

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas die botter direk in ’n oondpan van 22 cm x 33 cm en plaas dit in die warm oond om te smelt.

2. Haal die warm pan uit die oond en sprinkel eers die krummels en dan die gekapte sjokolade eweredig oor die botter. Stip die grondboontjiebotter rofweg daaroor en daarna die klapper en malvalekkers. Gooi die kondensmelk eweredig bo-oor.

3. Bedek die bakplaat met foelie (anders brand die malvalekkers!) en bak vir 25 minute. Verwyder die foelie en bak oop vir nog 5 minute. Laat koel die stafies heeltemal af voordat jy dit sny. In ’n lugdigte houer hou dit vir 1 week.

Wenk

Vir variasie kan jy die Tennis-beskuitjies vervang met soutbeskuitjies (soos Salticrax of Cream Crackers) en ’n laag gekapte neute saam met die klapper opstrooi.