Souttert van blikkieskos

akkreditasie
Ruvan Boshoff
Min dinge lyk so droewig soos ’n blikkie viennas wat jy in ’n bord uitskud. Maar jy kan blikkieskos omskep in 'n heerlike souttert wat die hele kampterrein aan die gons sal hê!

Souttert
Alles-deurmekaar-tert


As die kinders kla hulle is honger of die skoonfamilie daag onverwags in die kampterrein op, is dié bielie van ’n souttert net die oplossing vir aandete.


Jy benodig
• 1 ui, gekap
• ½ pakkie knopiesampioene, gekap
• 1 blik (275 g) Weense worsies, in skyfies gesny
• ongeveer 6 snye brood
• botter (of margarien)
• 5 eiers
• 2 koppies room
• 3 murgpampoentjies, gerasper
• 1 blik (430 g) aspersies

Só maak jy
1 Braai die ui en sampioene in ’n platboompot totdat die uie gaar is, en voeg dan die stukkies worsie of en braai dit vir nog ’n paar minute.
2 Skep die mengsel uit die pot, en vee die binnekant met kombuispapier skoon.
3 Smeer die brood aan die een kant taamlik dik met botter en voer dan die pot se bodem daarmee uit (botterkant na onder).
4 Meng die eiers, room, murgpampoentjies en gaar uiemengsel en giet dit dan oor die brood.
5 Pak die aspersies bo-op, sit die pot se deksel op en sit hom oor matige kole.
6 Loer ná sowat 5 minute of die eier al gaar is. As dit nie loop wanneer jy die pot effens skud nie, is jou souttert gaar.
7 Sny vir elkeen ’n stewige stuk en sit dit voor saam met ’n slaai.

WegSleep sê: Jy kan kreatief raak en selfs pitmielies, boontjies, ertjies en frikkadelle in die souttert sit. Onthou net,  vir elke 100 ml room gebruik jy 1 eier.