RESEP | Spek-en-uieringburger

akkreditasie


Vir 4 | Voorbereityd 30 minute plus rustyd | Gaarmaaktyd 15 minute

Dis so maklik om dié uieringe te maak – daar’s geen skottelgoed nie! – en dit sal almal by jou braai gaande hê. Jy kan dit ook saam met ’n gebraaide steak voorsit.

Jy benodig

VIR DIE PATTIE

• 400 g beesmaalvleis (nie té maer nie)
• 2 eetlepels worcestersous
• 2 eetlepels tamatiesous
• ½ ui, gerasper
• ’n hand vol gerasperde kaas (ons het parmesaan gebruik maar cheddar sal ook werk)
• ’n knippie sout

VIR DIE UIERINGE

• 2 groot uie
• 8 repies spek

OM VOOR TE SIT

• 4 hamburgerrolletjies
• 4 eetlepels mayonnaise
• 4 repe blaarslaai

Só maak jy

1. Meng die maalvleis, souse, ui, kaas en sout goed saam en verdeel dit in vier patties. Sit dit vir 1 uur in die yskas sodat dit ferm kan raak.

2. Skil die ui af, sny die bo- en onderkant af, en sny die hele ui dan in vier dik skywe. Druk die kern van elke skyf uit, maar behou minstens die twee buitenste lagies sodat jy vier dik uieringe het.

3. Draai een spekrepie om elke uiering, en druk die punte onder mekaar in sodat dit nie lostrek nie.

4. Verf olyfolie aan die patties en sit dit direk in ’n vuurwarm pan. Draai hulle ná ongeveer 4 minute om en braai hulle tot dit gaar is na jou smaak. Die geheim van ’n sappige burger is om die pattie nie oorgaar te braai nie.

5. Pak die uieringe saam met die patties in die pan (of gebruik ’n tweede pan) en braai dit totdat die spek bros en gaar is.

6. Smeer mayonnaise op die rolletjies en pak ’n skyf blaarslaai, ’n gaar pattie en twee uieringe daarop. Eet die burgers dadelik terwyl dit nog lekker warm is.