Steaks met swartbiermarinade

akkreditasie
Swartbier (of stout – dis nou soos Guinness) is in Suid-Afrika dalk nie so gewild terwyl die manne krieket kyk nie, maar ’n Castle Milk Stout gaan góéd af in ’n vleismarinade.

Jy benodig (vir 4 mense)

• 4 lendeskywe (‘sirloin steaks’)

• 1 eetlepel canola-olie 

• 1 eetlepel swartpeper

• 1 knoffelhuisie, gekneus

• 1 koppie swartbier (ons het Castle Milk Stout gebruik)

• 1 teelepel heuning

• ½ koppie biefaftreksel 

Só maak jy

1. Verf die vleis met olie, geur dit met gemaalde swartpeper en hou dit eenkant. Meng die knoffel, bier en heuning en giet dit oor die vleis. Laat dit vir minstens 2 uur marineer, maar verkieslik oornag.

2. Haal die vleis uit die marinade en druk dit versigtig droog met kombuispapier. Hou die orige marinade eenkant. Braai die vleis vir 3-4 minute aan ’n kant oor lekker warm kole. 

3. Gooi intussen die orige marinade in ’n kastrolletjie, skink die biefaftreksel by en kook dit vir 10 minute tot dit met die helfte afgekook het. Sit dit voor met ’n groenslaai. 

Ry & Sleep sê
Vleis moet verkieslik teen kamertemperatuur voorberei word. Laat staan dus jou steaks vir 15 minute buite die yskas voor jy hulle braai.