book-icon Uitgawe Goudbruin lekkerte

Taai varkliessosaties

akkreditasie
Jac Kritzinger
Met ’n taai sous smaak varkvleis vorentoe. Hou net die nat lappies byderhand...

Jy benodig (genoeg vir 6)

• 1 kg varklies, ontbeen en sonder die vel

• 1 eetlepel olyfolie

• 100 g bloubessies

• 3 takkies tiemie

• 2 takkies salie

• ¼ koppie bruinsuiker

• 2 eetlepels balsemiekasyn

• ½ koppie bessiesap

• 1 teelepel mielieblom

Só maak jy

1 Sny die varklies in blokkies van 5 x 5 cm, ryg die blokkies op 6 sosatiestokkies en geur die vleis met sout en swartpeper.

2 Verhit die olyfolie in ’n klein kastrol of platboompot en braai die bloubessies, tiemie en salie vir 5 minute tot die bessies sag is. Gooi die bruinsuiker, asyn en bessiesap by, verhit die mengsel tot kookpunt en verlaag dan die hitte sodat dit stadig prut.

3 Voeg 1 eetlepel water by die mielieblom in ’n bakkie en roer dit goed tot daar geen klonte is nie. Voeg dit by die bessiesous en klits die sous tot dit verdik.

4 Braai die sosaties oor matige hitte op die rooster (of in ’n riffelpan) en verf die heeltyd van die bessiesous aan. Na 10-15 minute aan elke kant behoort hulle gaar en mooi goudbruin te wees.

WegSleep sê: Jy kan varktjops en -ribbes ook met dié bessiesous dokter vir die braai.