Varkrol met koeskoes

akkreditasie
Die koeskoes word met ingelegde gemmer en gebraaide varkworsies gegeur. En as jy die varkfilet vooraf oprol, jy kan die res buite onder die prieel doen.

Vir 4-6 |Voorbereityd 20 minute | Gaarmaaktyd 15 minute

Jy benodig

VIR DIE KOESKOES

  • 200 g (1 koppie) koeskoes
  • 4 varkworsies
  • 1 rooiui, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 6 salieblare, fyngekap
  • ½ teelepel wonderpeper (allspice)
  • ½ koppie korente of sultanas
  • ¼ koppie kasjoeneute (of enige ander neute), gekap
  • 2 eetlepels ingelegde gemmer, gekap
  • sout na smaak

VIR DIE VARKROL

  • 2 varkfilette van 400 g elk
  • 250 g prosciutto of dun strepiespek
  • 10 salieblare
  • 3 knoffelhuisies, in skyfies gesny
  • 4 perskes

Só maak jy

1 Berei die koeskoes volgens die aanwysings op die pakkie en laat dit bedek eenkant staan vir 5 minute.

2 Druk intussen die worsies uit die derm in ’n pan op die vuur. Voeg die ui, knoffel en salie by en braai tot gaar. Die stukkies wors sal soos frikkadelletjies lyk.

3 Voeg die gaar koeskoes, wonderpeper, korente, neute en gemmer by. Breek die stukkies vleis fyner, indien verkies. Proe en sprinkel sout na smaak by. Bedek en hou eenkant warm.

4 Draai die varkfilet redelik styf toe met velletjies prosciutto wat oorvleuel. Druk plek-plek ’n salieblaartjie of ’n stukkie knoffel tussen die varkvleis en die prosciutto in terwyl jy dit oprol. Bind die rol met kombuistou vas.

5 Plaas die varkfilet op ’n rooster oor matige warm kole in ’n ketelbraai en sit die deksel op. Draai die filette ná 8 minute om en sit die perskes op die rooster. Sit die deksel op. Haal die filette ná 5 minute af en sit bo-op die koeskoes. Bedek vir 5 minute en sny die vark in skywe. Sit voor met die koeskoes en perskes.