10 truuks vir trurat met ’n wa

akkreditasie
Uit die argief: As jy gedink het ’n sleepwa of woonwa is ’n ding wat gedwee in dieselfde rigting as die sleepvoertuig beweeg, het jy beslis nog nie agteruit daarmee probeer ry nie. Hier is tien wenke.

1. Kyk eers mooi

Hou stil, klim uit en gaan jou staanplek goed na. Kyk na die breedte, die lengte én, belangrik, die hoogte. Daar is dalk net ’n boomtak of iets in die pad, en voor jy jou kom kry, is jou “pop-up” ’n afslaankap. 

2. Kry ’n tru-trawant

Om agteruit te ry het jy iemand nodig wat beduie hoe die sleepwa sus of so gedraai moet word. Maak die vensters aan al twee kante van die voertuig oop en sit die radio af sodat jy kan kan hoor as jou navigator met jou praat.  

3. Sien jy my?

Maak seker jou syspieëltjies is wyd genoeg gestel sodat jy kan sien wat agter jou aangaan. Jy en die navigator moet mekaar kan sien, anders gaan die beduiery net mooi niks help nie. 

4. Links... links... nee, ánder links!

Onthou om vooraf seker te maak jy en die navigator verstaan mekaar as julle van links of regs praat. En onthou, die een agter moet beduie waarheen die sleepding moet beweeg en nié die sleepvoertuig nie. 

5. Luister, my ou maat.

Daar is nie tyd vir uitgerekte verduidelikings wanneer jou navigator instruksies gee nie. Vertrou sy of haar oordeel en stop as hy of sy so sê. Die handsein vir “stop” is gewoonlik ’n gebalde vuis. As jy nié stop nie, gaan daai vuis iets anders beteken... 


6. Hoe meer grade, hoe meer skade.

Selfs al wil jy net ’n kort entjie agteruit ry, gebeur dit dikwels dat die sleepkombinasie by die sleepstang knak of “jackknife”. ’n Mens se eerste reaksie is om die probleem reg te stel deur na die verkeerde kant toe te draai. Dit gaan sake waarskynlik net vererger, en jy kan sommer maklik vir jouself groot skade op die hals haal. 

By gewone voertuie is die sleepbal en elektriese koppeling baie naby aan mekaar en wanneer jy te veel knipmes, druk die woonwa se A-raam daarteen en jou sleepding se kragprop is daarmee heen. Dit kan ook gebeur dat jou 4x4 se noodwiel teen die assie van die sleepding se spanwiel vasdruk en dit dan só buig dat jy dit nie weer kan laat sak nie. Soms kan dit selfs deur die noodwiel se oortreksel druk. Jou agterligte of bakwerk is ook nie veilig nie.

7. Probeer maar weer...

Die maklikste manier om jou voertuig uit ’n knipmessituasie te maneuvreer is om te stop en reguit vorentoe te ry sodat die sleepding en -voertuig weer in lyn met mekaar kan kom.

Begin dan van voor af.

8. Grootte tel, ja.

Daar is ’n groot verskil om met ’n woonwa en met ’n sleepwa agteruit te ry. Met ’n woonwa is die afstand tussen die as en die sleepbal baie langer as met ’n gewone sleepwa. Hoe langer die afstand tussen dié twee, hoe makliker gaan jy agteruit kan ry. 

9. Opdraand op, afdraand af.

Ongelukkig is nie alle staanplekke gelyk geskape nie. Jy gaan van tyd tot tyd jou sleepding teen ’n skuinste op of af moet terugstoot, en as jy nie versigtig is nie, kan dit nogal ’n storie afgee. Die inloopremme van hedendaagse woonwaens rem nie as die wiele agteruit draai nie. Sit dus ’n klip voor én agter die wiele wanneer jy agteruit teen ’n skuinste staan.

As jy geen klippe by jou staanplek verwag nie (sê tog vir ons waar jy dan gaan kamp!), kan jy liggewig-plastiekwiggies aanskaf. 

10. Gryp in!

Hoe stop ’n mens ’n woonwa wat afdraand loop? Die gewone manier is om te skreeu en arms te swaai tot die wa in die rivier of jou buurman se tent beland. 

Maar as jy nie van ’n amfibiese woonwa hou nie, kan jy swaartekrag in jou guns laat werk. Jy gaan nêrens kom as jy die karavaan teen die skuinste probeer optrek nie. 

Draai eerder die neus na die helling se kant toe – hy sal onmiddellik stadiger loop. Trek dan die handrem op. 

As die woonwa neus-af en met die handrem op nog steeds teen die steilte afloop, is daar fout met die remme. (En dan kan jy solank jou versekeraar se nommer gaan opsoek.)