Jy ken waarskynlik al die breë trekke van die jerrykan se geskiedenis: Dit is die Duitsers wat dié bekende brandstofkan en ou langpadstaatmaker tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgevind het, en “jerry” was Britse sleng vir Duitse troepe.
Maar die volle verhaal is selfs nóg interessanter... Vroeër jare is olie en brandstof uitsluitlik in vierkantige blikkanne aan die publiek verkoop, iets wat koöperasies en grootmaatsupermarkte vandag nog gebruik vir kookolie en paraffien. Maar met die Spaanse Burgeroorlog in 1936, wat deur Nazi-Duitsland ondersteun is, is ontdek die gesoldeerde nate van dié kanne bars té maklik as dit hardhandig hanteer word.
’n Ander soort metaalkan, een wat soos ’n driehoekige aktetas gelyk het en in 1928 deur Vinzenz Grünvogel ontwerp is vir die Duitse ingenieursfirma Eisenwerk Müller & Co. AG in Schwelm, Westphalia, het aansienlik beter presteer as die gewone blikkanne.