
Elke bestuurder het sy eie behoeftes wat herwinningstoerusting betref. Een ding wat wel vir almal geld, is dat dit groot, lompe goed is waarvoor daar nooit genoeg plek is nie. Jan het na die enjinkap van sy Cruiser gekyk en ’n plan gemaak.
Hoekom het jy besluit om die kas te bou?
Ek toer meestal alleen en in afgeleë plekke, en ek moet dus seker maak die herwinningstoerusting wat ek saamneem, is genoeg om my of ’n medebestuurder uit die moeilikheid te kry.
Buiten bêreplek vir die toerusting help die kas ook met gewigsverspreiding op die voertuig, want die Cruiser se voorste as kan nog baie meer gewig dra as wat tans die geval is.
Met die kas kan jy maklik in ’n noodgeval by die herwinningstoerusting kom. As dit byvoorbeeld ’n morsige modderherwinning is, kan jy die vuil toerusting net so in die kas gooi sonder om alle ander kamptoerusting vuil te maak.
Later by die kampplek kan jy die toerusting uithaal en op jou tyd behoorlik skoonmaak.
Watter gereedskap en materiaal het jy gebruik?
Ek het ’n saag, sweismasjien, G-klampe, boormasjien en plaatbuigmasjien gebruik om die kas te bou en dit met versonke boute gemonteer. Die raamwerk van die kas is van 25 mm-aluminiumvierkantpyp gemaak en met 2 mm- geriffelde aluminiumplaat oorgetrek.
Dieselfde metode is gebruik om die deksel van die kas te maak. Die deksel is aan die agterkant van die kas met twee skarniere vasgesit.
Twee knippe hou die deksel toe en sorg dat dit kan sluit.
Hoe het jy beplan?
Die plan was maar in my kop en daarna het ek dit sommer op die enjinkap met my vinger in die stof geteken. Ek het begin meet en pas om die afmetings reg te kry.
Ek het eers die raamwerk gebou sodat dit pas en daarna met geriffelde aluminiumplaat oorgetrek.
Ek het ’n tweedehandse enjinkap gebruik, want ek het drie Cruisers en kan dan maklik enjinkappe omruil as dit nodig is.
Wat sê die mense?
Die opmerkings wat ek kry, wissel van “Goeie plan!” tot “Jy is mal” en “Hoe sien jy die pad?”
Wat is die voor- en nadele van die kas?
Die grootste voordeel is dat ek onmiddellik die toerusting kan bykom in ’n noodgeval. Die nadeel is dat die enjinkap ’n bietjie swaarder is om oop te maak, maar gelukkig word die Cruiser se enjinkap maar min oopgemaak.
Watter raad kan jy aan iemand gee wat dit wil bou?
Die kas is redelik eenvoudig en enige vaardige mens met die regte toerusting sal dit kan maak.
Stap vir stap
Meet en pas. Jan het die ontwerp sommer op die enjinkap geteken en afmetings daarvolgens gemaak. Dis belangrik dat die onderkant van die raamwerk effens gebuig is sodat dit orals stewig teen die enjinkap sit.
Raamwerk. Die res van die raam word van 25 mm-aluminiumvierkantpyp gemaak en vasgesweis. Die raamwerk is hierna met 2 mm-aluminiumplaat oorgetrek.
Montering. Die kas is met vier versonke boute aan die enjinkap vasgesit. Die kas het nie sy eie bodem nie; die enjinkap binne-in die kas is met mat bedek sodat die toerusting nie die enjinkap beskadig nie. Dit dien ook as demping tussen die metaaloppervlak van die enjinkap en die aluminiumraam.
Alles op sy plek. Hierna is die deksel met skarniere vasgesit en die knippe is aangesit om die kas toe te hou. Die kas is diep genoeg sodat ’n graaf, byl, hark, hoogligdomkrag, sleeptoue, handskoene, glimbaadjies, wielsleutel en sandlere inpas, maar nie so hoog dat dit Jan se sig belemmer nie.
Hierdie artikel het in WegRy #64 (September 2014) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.