book-icon Uitgawe Junie 2019

Ewenaarslot of viertrek... of is dit om ’t ewe?

akkreditasie
Dis tyd om jou getroue 2006 Ford Ranger 2500TD 4x4 te vervang, maar nuwe 4x4-bakkies is peperduur. Kan jy regkom met gewone tweewielaandrywing en ’n ewenaarslot?
foto’s: Cyril Klopper

Jy het sekerlik al gehoor van die mitiese boer wat glo op plekke kan ry met sy agterwielaangedrewe KB250 waar selfs die Cruiser-ouens dit nie sal waag nie. Hoe? Deur bloot die handrem te pomp of ewenaarslot in te haak.

Ons gaan die vernuf van daai mistieke boer nie bevraagteken nie, maar ons het ons eie langtermyntoetsvoertuig, die Isuzu D-Max, gebruik om te kyk hoe ’n ewenaarslot teen viertrek opweeg.

Daar is vier vergrotende trappe in 4x4-taal: viertrek, viertrek met ’n ewenaarslot, viertrek met laestrek, en viertrek met laestrek en ’n ewenaarslot. Ons D-Max val in laasgenoemde kategorie, en omdat jy hom ook in agterwielaandrywing kan ry – met die ewenaar oop óf gesluit – is hy ’n geskikte kandidaat vir ons toets.

Harde oppervlakke

ewenaarslot
TOETS. In tweewielaandrywing, ewenaarslot en lae banddruk kon ons net ’n paar meter vorder. In 4x4-hoëstrek, ewenaar oop en lae banddruk was dit maklik verby – ons spoor is skaars sigbaar. In 4x4-laestrek en lae banddruk was dit redelik maklik, maar die D-Max was geneig om in te grawe. In 4x4-hoëstrek, ewenaarslot en stywe bande was dit haas onmoontlik. In 4x4-laestrek en ewenaarslot kon ons wel met stywe bande oor die duin ploeg.

Ons het ’n paar asknopers en steil bulte aangedurf waar gewone tweewielaandrywing nie genoeg is om jou deur te sien nie. Met tweewielaandrywing en ’n oop ewenaarslot is ons D-Max dikwels slegs deur een wiel aangedryf (die wiel wat die minste weerstand ervaar) en hy kon dus met die meeste hindernisse nie hond haaraf maak nie.

Ons het effens beter presteer met die ewenaar gesluit (krag is nou eweredig verdeel tussen die agterwiele), maar daar was aansienlike wieltol teen steil skuinstes uit en die bakkie het swak gevoel omdat die agterwiele ál die werk moes doen.

Met viertrek ingehaak (oop ewenaar), was daar geen wieltol te bespeur nie, maar die bakkie het steeds teen die skuinste uit gesukkel. In laestrek (oop ewenaar) was dit verspotmaklik – en glad nie nodig om die agterste ewenaar te sluit nie. Die ewenaarslot is wel goud werd in asknopers.

Met laestrek ingehaak en ’n oop ewenaar het ons op asknopers hoog en droog in die lug gehang met die twee los wiele wat nutteloos tol. Dan het ons die ewenaar gesluit en die D-Max kon die hindernis baasraak. Die ewenaarslot speel dus ’n belangrike rol op rotse en deur asknopers.

Moddergate

Ons het ’n moddergat en ’n kleierige skuinste met tweewielaandrywing aangedurf en die ewenaar gesluit.

Die D-Max het nie gesukkel met die moddergat nie, maar dit was grootliks te danke aan die momentum wat ons kon handhaaf én omdat die modder nie baie dik was nie. Die kleierige skuinste was egter ’n perd van ’n ander kleur – dan beteken daai ewenaarslot niks nie. Ons D-Max het bloot rondgegly en kon nie die mas opkom in agterwielaandrywing en die geslote ewenaar nie. 

Nadat ons viertrek met laestrek ingehaak het, kon ons die glibberige wal uitklouter sónder die ewenaarslot. Dit lyk of ’n ewenaarslot goed werk op harde grond, maar as die bande nie genoeg vastrap het nie, is ’n ewenaarslot van min waarde.

Viertrek met ’n ewenaarslot is uiteraard beter as viertrek daarsonder, maar jy trek slegs voordeel daaruit as jy asknopers teëkom.

Sand

Die laaste soort terrein wat ons getakel het, is sand. Hier het tweewielaandrywing met ’n geslote ewenaar slegs gewerk wanneer ons momentum kon behou. Ons het een of twee keer vasgeval, maar dit het meermale goedgegaan danksy die lae banddruk (meer hieroor later) en ons kon geen noemenswaardige voordele aan die ewenaarslot sien nie.

Trouens, die ewenaarslot was in sand meer ’n hindernis as ’n bate omdat dit jou bakkie se draaisirkel vergroot.

Met vierwielaandrywing en hoëstrekratte was sandry die maklikste, en dit was weinig nodig om oor te skakel na laestrek. Ons het laestrek slegs ingehaak wanneer ons in tweewielaandrywing vasgeval het, en die D-Max moes beur uit die gat wat ons gegrawe het.

Ons bevindings in sand was dat tweewielaandrywing met ’n ewenaarslot slegs werk as jy momentum kan behou – en dat lae banddruk meer help as ’n ewenaarslot. Viertrek in hoëstrek werk die beste, en laestrek is broodnodig as jy vasgeval het of jou trokkie op die rand van vasval is soos wanneer jy die Doodsakker in Angola trotseer.

ASKNOPER. Die Land Rover het nie ewenaarslotte gehad nie en het derhalwe gesukkel met die asknoper. Die D-Max het ook vlugtig gesukkel, tot ons sy agterste ewenaar gesluit het.

Pap teenoor harde bande

Terwyl ons in die sand was, het ons ook gekyk wat die verskille is tussen bande wat kliphard gepomp is en bande waarvan die lugdruk verlaag is.

Met harde bande (3 bar) en tweewielaandrywing (ewenaarslot oop óf gesluit) kon ons niks uitrig nie – ons kon nie eens 30 cm ver ry in die sand nie.

Met pap bande (1,8 bar) en tweewielaandrywing (ewenaarslot oop óf gesluit) kon ons lang ente ry mits ons op harde grond kon wegtrek en momentum behou.

Met harde bande (3 bar) en vierwielaandrywing kon ons verbasend ver vorder mits die sand gelyk was en ons nie duine probeer uitry het nie. Ons kon ook regkom met harde bande en laestrek, maar ons D-Max het diep ploegspore in die sand gelaat.

Die beste resultate was natuurlik viertrek en pap bande – met dié kombinasie kon ons D-Max teen enige duin uitbulder. Laestrek werk ook, maar omdat jy so stadig beweeg, is dit dikwels moeilik om hoë duine te verower.

Slotsom

’n Ewenaarslot is beter as ’n glipewenaar, maar viertrek is deurslaggewend vir resultate. Viertrek met ’n ewenaarslot is uiteraard beter as viertrek daarsonder, maar jy trek slegs voordeel daaruit as jy asknopers teëkom.

Banddruk is van kardinale belang. Jou trokkie kan met allerlei 4x4-affêrinkies toegerus wees, maar met die verkeerde banddruk of bande gaan jy sukkel.

Voor of agter?

Twee ewenaarslotte is altyd beter as een, maar as jy móét kies tussen voor of agter, is ’n agterste ewenaarslot beter. Die rede is omdat jou voorwiele reguit vorentoe moet wys as jy die voorste ewenaar sluit.

As die ewenaar gesluit is en jy draai aan die stuurwiel, is daar ’n kans dat die ewenaar gaan breek. Jy sal dadelik weet as hy breek, want die harde knal is onmiskenbaar en die gevolglike geknars van stukkies metaal wat in die ewenaarpampoen rondkrap, sal jou laat ril.

Jou trokkie se agterwiele draai nie links en regs nie, en daarom is die kans dat ’n agterste ewenaar sal breek, betreklik klein mits jy nie te ver met ’n geslote ewenaar op harde grond ry nie.

Stuur e-pos na rysleep@weg.co.za as jy van ons verskil. Ons luister graag na jou mening.

Tragedie in die Outback

Op 7 Desember 1998 het Karl Goeschka en Caroline Grossmueller, twee Oostenrykse toeriste, deur Australië se Outback gereis in ’n gehuurde Toyota Land Cruiser.

Die paartjie het die gehuggie William Creek in Suid-Australië verlaat en 65 km na die afgeleë Lake Eyre-boskamp gery waar hulle Land Cruiser ín die kampplek in die sand vasgeval het. Hoewel hulle 65 l water en genoeg kos vir ’n week by hulle gehad het, het Karl en Caroline besluit om ná twee dae se wag terug te stap na William Creek.

Caroline was ’n gesoute stapper en sy het gereken as hulle deur die nag sou stap, hulle die nedersetting vroeg die volgende middag sou haal. Caroline en Karl het hulle voertuig verlaat met slegs 17 l water, ondanks die feit dat die kwik daardie nag op 35 ºC gestaan het.

Karl het ná 5 uur se stap die handdoek ingegooi en teruggekeer na hulle voertuig. Caroline het volhard, maar sy het 35 km buite William Creek weens uitputting beswyk.

Caroline se lyk is vyf dae later langs die pad ontdek en Karl is dieselfde dag lewend by die voertuig gevind. ’n Polisieman op die toneel vertel hy het bloot die Land Cruiser se banddruk verlaag en uit die sand gery...


*Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #23 (Junie 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.