Deel

My eie wa…vir ’n appel en ’n ei

akkreditasie
Al die regte gereerdskap.
Al die regte gereerdskap.
Arthur Basson, ’n wynmaker in die Boland-omgewing, het in 2017 aan Wegsleep vertel hy was glad nie ’n kampeerder nie totdat dié gogga hom gebyt het nadat hy en sy vrou, Cisca, ’n keer saam met vriende gaan kamp het.

Arthur het ’n jaar lank oor naweke en saans aan sy wa – die Bospadda – gebou. Sy wa het hom skaars R20 000 gekos, maar dit is grotendeels te danke aan kontakte, winskopies en sy besluit om slegs gewone staal te gebruik en nié vlekvrye staal nie. Hy vertel.

Ek het in die Weskus grootgeword en ons het altyd in ons vakansiehuis op Langebaan gaan uitspan. Ek het glad nie kamp geken nie. Om die waarheid te sê was ons vriende se wa die eerste kampwa wat ek van nader gesien het.

Hulle het met hulle wa gekamp en ons met ’n tent. Toe dink ek: Nee wat, hoe moeilik kan dit dan nou wees om ’n kampwa te bou? ’n Mens moet darem gerieflik kamp met ’n behoorlike kombuis en lekker slaapplek.”

Uit die kop uit

Nadat ek ons vriende se wa bekyk het, kyk ek ook op die internet rond na verskillende kampwaens. My behoefte is behoorlike slaapplek, ’n kombuis én ’n wa wat maklik kan sleep. Ek soek nie ’n ding wat te deftig is nie. As jy te ghrênd raak en jou huis by jou wil hê, verloor jy mos die hele idee van kamp. Dit moet nog voel jy kamp!

Ek bou die wa letterlik uit my kop uit, van die onderstel af boontoe. Ek maak rofweg sketse en werk mates uit, maar soos ek bou en aangaan, verander ek ’n bietjie hier en las ’n bietjie daar. Dit maak dit uitdagend. Nog ’n uitdaging is om die wa heeltemal waterpas te kry, want ek sweis nie in ’n setmaat (jig) nie, maar met die vry hand en hou alles sover as moontlik waterpas met klampe.

’n Paar keer moet ek goed afsaag en oordoen as hy ’n bietjie skeef trek. En ek moet rond en bont sweis om seker te maak die metaal trek nie te veel skeef nie. As daardie wa iewers op ’n plek 2 mm uit is, is dit baie.

Hy is so waterpas as kan kom.

Die raam van die onderstel word heel eerste gebou
Die raam van die onderstel word heel eerste gebou en hy kry sy as op die regte plek.

Wa van staal

Ek bou in my pa se werskwinkel op die plaas by Darling. Ek het net ’n gewone boogsweismasjien en hoekslyper hier by my, maar hy het MIG-sweismasjiene, ordentlike sae en al die gereedskap wat ek nodig het.

Om die bouery te begin neem ek vroeg in Januarie 2015 ’n week verlof. In dié tyd maak ek die onderstel en wa se buiteraam klaar en hegsweis (tack) alles aan mekaar. Ek bou die onderstel se raam met reghoekige buisstaal (tubing) van 100 x 50 x 3 mm. Ek het nie geld vir ’n gegalvaniseerde onderstel nie en volg die raad om gaatjies in die raambuise te boor, dun ratkasolie in te gooi en die gaatjies weer toe te sweis. Soos jy ry, spat die olie binne-in die raam en word die staal goed beskerm.

Die buiteraam bou ek met 40 x 20 x 1,6 mm-buisstaal en die vloer van 2 mm-staalplaat.

’n As wat pas

Ek koop die koppelstuk met ’n inloopremstelsel, as, vere en dinge soos die hoekstutte en modderskermklappe. Die wa kry ’n 2 000 kg-koppelstuk (Knott), 1,5 t-as en agtbladvere.

Alles hang mos af van waar die as sit en hoe reg hy sit. Met ’n as wat nie presies haaks sit nie en een wiel net 2 mm verder vorentoe as die ander wiel loop ’n wa mos soos ’n vurkhyser. Ek vra my broer William om vir my die as op te sit. Hy doen die somme en sit die as 100 mm agter die middelpunt van die raam vas en ons twee maak doodseker dis 100% haaks.

Arthur bou naweke in sy pa, John, se goed toegerus
Arthur bou naweke in sy pa, John, se goed toegeruste plaaswerkswinkel.

Naweekwerk

Ek en Cisca ry naweek ná naweek 200 km tot op die plaas by Darling sodat ek aan die wa kan werk. Ek werk Saterdae van vroegdag af tot tienuur saans. Ek meet en saag en pas baie, want ek wil alles presies hê. As ek ysters sny om te las en hulle pas nie perfek nie, doen ek dit oor. Dis mos makliker om ’n ding te sweis wat perfek pas as om ’n groot gaping toe te sweis. Cisca moet ’n keer of wat my arc eyes help dokter, maar dis darem nie te erg nie.

Sondae ry ons huis toe.

Dié bouery oor naweke is lekker, want dit gee my tyd om in die week te dink en beplan wat ek volgende gaan doen en hoe om dit te doen.

Dit help om só te bou as jy so uit jou kop uit werk. En dit is ook lekker om nie net te bou om klaar te bou nie. Ek bou wel dele van die wa – soos die neuskas en die steunstukke vir die ligte – op weeksaande en gaan sit dit dan naweke op.

Die neuskas bou ek met buisstaal van 20 x 20 mm en 1 mm-staalplaat. Die wa se voor- en sykante is van 1 mm-plaatmetaal.

Ek sit die kante met Sikaflex en klinknaels vas. Nou moet ek ’n kleur kies vir die wa en besluit op Hammerite Smooth Green. Ek spuitverf die wa self en doop my groen wa die Bospadda.

Dankie, Pa

Wat ek nié doen nie, is die houtwerk. Maar my pa is ’n kranige skrynwerker en het ook ’n werkswinkel vol gereedskap. Ek vra hom om as ’n verjaardaggeskenk vir my die wa se kaste en kassies te bou. Hy rapporteur elke dag met foto’s aan my. Hy bou al die kassies met 9 mm-laaghout en die kombuis se tafelblad met skeepskout.

AC/DC

Met die kante op, die wa geverf en die kaste klaar, laai ek die wa op ’n sleepwa en bring hom huis toe waar ek saans verder werk.

Vir die bedrading (12 V en 220 V) gebruik ek onderskeidelik ’n marine-skakelbord met sekerings en ’n skakelbord met stroombrekers vir veiligheid.

Die 12 V is vir my maklik. Ek sit die skakelbord in vir beskerming, want ek sien eerder ’n sekering uitbrand as die drade.

Vir die 220 V vra ek ’n elektrisien se raad vir die ses driepuntsokke wat ek wil insit. Op sy aanbeveling sit ek die skakelbord met stroombrekers in sodat my elektriese goed net uitskop en nie uitbrand as ’n kampplek se krag dalk nie te lekker is nie. Die drade het dik wande en is goed geisoleer. En dis behoorlik vasgetrek op die laaghoutbokant onder die dakplaat en in die wa sodat dit nie kan skaaf nie.

Buiten die 220 V-sokke het die wa LEDligte in die verskillende kompartemente en twee sigaretlaaiersokke om goed te kan laai. Ek toets alles behoorlik voor ek die dakplaat opsit. Ek sit ’n goeie 50 kiste wyn bo-op die plaat om seker te maak hy is behoorlik in plek, en dan word hy ook met Sikaflex en klinknaels vasgesit.

Gomsnuif is nie lekker nie

Een van die grootste foute wat ek maak, is om nou eers die mat in die binnekant van die wa te plak. As ek geweet het wat ek nou weet, sou ek die mat geplak het voor ek die laaghoutbokant ingesit het. Ek kruip agter in die wa en voer dit stukkie vir stukkie uit met karmat. Jy wil nie weet hoe draai jou kop van die Genkem in daardie toe ruimte nie.

Die enigste aluminium op die wa is die deure. Ek gebruik platstaaf van 38 x 6 mm vir die rame en geruite plaat van 1,5 mm.

Ek meet en sny alles en laat ’n aluminiumsweiser die rame vir my sweis. Die geruite plaat heg ek met Sikaflex aan die rame.

Vir die agterkant bou ek ’n glyraam vir vier ammokiste met ’n ekstra kassie voor vir los goed. Ek probeer al die ruimte baie goed benut.

Reg agter die glyraam sit ek ’n 60 l-watertenk in vir die opwasskottel wat in die kampplek in ’n los raam aan die neuskas vasgesit word.

Aan die agterkant skuif twee los hoekstutte in wat met ’n armpie soos die neuswiel s’n vasgedraai word.

Slaapplek

Ek wil nie ’n peperduur tent koop nie en besluit op ’n Tentco Senior Safari. Ek pas die daktent met teleskopiese pale aan om hom stewiger te maak sodat ek nie elke keer 20 penne hoef in te slaan nie.

Kant en klaar
Kant en klaar

Kant en klaar

Ek het net ná Nuwejaar begin bou en presies ’n jaar later is my wa klaar en reg vir die pad en die kampplek. Danksy my besluit om gewone staal te gebruik en die goeie afslag wat ek daarop en op die meeste van die onderdele gekry het, het die wa my onder R20 000 gekos.  Ek het altesame R6 500 betaal vir die as, drie wit wielvellings, vere, die koppelstuk, remkabels, neuswiel, hoekstutte, modderskerms en ligte. (Hou in gedagte dié wa is tussen 2015 en 2016 gebou). Sonder al die kennisse en konneksies sou ek dit nie vir so min kon bou nie.

Die wa is 3,4 m lank en met alles gelaai weeg hy net minder as 700 kg. Hy sleep soos ’n droom. Ek sien soms hoe ander waens hop-hop ry, maar myne loop glad. Ek moet soms pasop om nie te vergeet ek sleep ’n wa nie.

Ons heel eerste kamp met die Bospadda is by Die Dam-vakansieoord by Gansbaai.

Dit is heerlik om in ons eie wa te kamp.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #98 (April 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.