Deel

’n Braai in ’n laai

akkreditasie
Uit die argief: Jy kan nie die boendoes invaar en nie braai nie. Ben Swart het sy laaistelsel agterin sy Prado ontwerp met al sy braaitoerusting in gedagte.

Ben het die raam van 19 mm-vierkantyster gemaak om tussen die wielboë van die Prado in die laairuim in te pas. Hy het ook 30 x 2 mm-hoekyster gebruik waarop die laaie op Teflon-stroke sal skuif.

Twee monteringspunte aan die raamwerk is met boute in bestaande gate in die laairuim vasgebout.

Die raam is 1 m lank en twee laaie van onderskeidelik 520 mm en 370 mm breed, pas daarin. Dit is 270 mm hoog. Die laaie is van 3 mm-aluminiumplaat gemaak. Kuilsrivier-staal het dit vir Ben gebuig.

Die voorkante van die laaie is met mat oorgetrek en drukslotte van McNaughtons is ingesit. Ben het die handvatsels by R&D Offroad gekry. Hy het ook die gapings langs die laaie toegemaak met stukke aluminium wat hy met mat oorgetrek het.

Hy het die voorkante en agterkante van die laaie, asook die afskortings in die groot laai met aluminiumhoekyster en klinknaels vasgesit omdat hy nie self aluminium kan sweis nie.

Die dek bestaan uit twee dele. Die voorste deel het deksels aan skarniere aan die kante wat oopmaak sodat jy die plek langs die laaie voor die wielboë ook kan gebruik. Die agterste deel is solied.

Die rubber bo-op die hout is met Genkem vasgeplak en die hout is met grootkopklinknaels aan die raam vasgesit.

Laastens het hy ringe op die dek vasgebout sodat hy die boks waarin sy ekstra battery is, stewig kan vastrek.