As jy in 16 jaar nie aan ’n boswoonwa se basiese konsep torring nie, het jy ’n wenresep beet. Dit is die geval met Conqueror se Commander, en te oordeel na die Stealth-weergawe lyk die volgende 16 jaar ewe rooskleurig.
Aanvanklik is tien eenhede gebou, en ons was gelukkig genoeg om in te loer by Conqueror se nuwe handelaar in die Boland, La’t Wiel 4x4, om die nuwe wa van nader te bekyk.
Tans is die Commander beskikbaar in drie weergawes: die basiese Classic, en dan die Platinum en Recce. Prysgewys skuif die Stealth tussen die Platinum en Recce in.