Jan Slabber, ’n half-afgetrede dieselpasser van Bethlehem, het bly sukkel met ’n daktent wat hy in 2007 splinternuut gekoop het. Die seiltjie wat oor die tent getrek word as hy toevou, wou net nooit saamspeel nie.
Gedurende ’n toer van drie maande het hy besluit genoeg is genoeg en ’n plan bedink. “Dit was veral ’n probleem as daar te veel beddegoed in was en die tent te hoog gestaan het as hy toegevou is,” sê Jan.
Wat is die beginsel van die projek?
Dit is eintlik maar net ’n aluminiumboks wat die seiltjie bo-oor die tent vervang as hy toegevou is. Die deksel van die boks skarnier groot genoeg oop sodat die tent onder hom kan uitvou en oopvou. Ek het twee sonpanele bo-op gesit omdat die deksel permanent op die dak sal bly.
Waar het jy die plan gekry?
Ek het rondgekyk na wat beskikbaar is. Die kas moes groot genoeg wees sodat ek al die beddegoed en ander los goed in die tent kon los en dit toemaak sonder dat iets uitpeul.
Watter materiaal is gebruik?
Die boks is gemaak van geriffelde aluminiumplaat en aluminiumvierkantpyp. Ek het die raam aanmekaar gesit met Connect-it-verbindings en klein gasskokbrekers help die deksel lig. Die skarnier is ’n lang klavierskarnier.
Wat is die voor- en nadele hiervan?
Die grootste voordeel is dat die daktent nou sonder sukkel oop- en toegemaak kan word. Dis nou nie meer nodig om die beddegoed uit die tent te haal en weg te pak nie. Daar is nie eintlik nadele nie. Die klein bietjie meer windweerstand wat die Cruiser nou het, gaan nie ’n beduidende effek op die brandstofverbruik hê nie.
Hoe het jy dit aangepak?
Eerstens het ek die tent gemeet om seker te maak ek bou ’n kas waarin dit maklik sou pas. Die kas moes hoog genoeg wees sodat die deksel maklik kan toemaak sonder om aan die tent te haak/raak?.
Die raamwerk is van 25 mm x 25 mm-aluminiumvierkantpyp. Ek het dit eers in die regte lengtes gesaag voor dit met Connect-it-verbindings aanmekaargesit is. Ek het die raamwerk oor die tent gepas om seker te maak dis reg voordat ek die verbindings met klinknaels vasgesit het.
Die klavierskarnier het ek met klinknaels vasgesit nadat ek seker gemaak het dit werk goed en maak maklik oop.
Ek het die aluminiumplaat vir die kante en deksel volgens die regte mates laat knip en toe self gebuig om die deksel te vorm. Hierna het ek dit met klinknaels aan die raam vasgesit.
Ek het die gewig van die deksel geskat en die twee sonpanele wat bo-op sou kom, geweeg. Hiervolgens het ek uitgewerk dat ek twee Gabriel-gasskokbrekers van 420 mm lank en 12,5 MPa (megapascal) nodig het om die deksel op te lig en bo te hou.
Om die kas stof- en waterdig te maak het ek dik stofdigtingsrubberstroke teen die openinge geplak.
Laastens, nadat ek die daktent in die kas ingebou en seker gemaak het die deksel werk, het ek twee knippe aan die kante gesit. Die kas kan dus nou gesluit word.