Só haal jy ’n band van ’n velling af

akkreditasie
Haal self ’n band van sy velling af.
Haal self ’n band van sy velling af.
Haal sommer self jou band van die velling af, ons wys jou hoe én sommer ook hoe om die band weer op te sit.

Die spanrand

Voordat jy ’n band van ’n velling afhaal, moet jy eers verstaan hoe ’n band aanmekaargesit is en hoe dit op die velling bly.

Die spanrand – die bandrand wat teenaan die velling sit – is die belangrikste deel. Jy’t ’n spanrand aan die binnekant van die velling (remskoenkant) en nog een aan die buitekant (bandklepkant).

Bande word deesdae meer algemeen sonder binnebande gebruik, daarom is dit baie belangrik dat    die spanrand perfek teen die velling seël. Die spanrand is gewoonlik binne-in met ’n staaldraad versterk, wat dit stewig op sy plek hou.

Die idee is dat die spanrand styf teen ’n lippie op die rand of flens (flange) van die velling moet druk as dit reg opgesit is.

Hoe stywer die band gepomp word, hoe stewiger sit die spanrand teen die velling.  En hoe papper die band is, hoe makliker kom die spanrand van die velling los.

Breek die spanrandsluiting

Voordat jy ’n band van ’n velling kan afhaal, moet jy eers die spanrandsluiting aan al twee kante van die band breek. Die spanrandsluiting is die spanning waarmee die spanrand rondom die velling klou. Daarna is die stryd halfpad gewonne. Maar hoe doen jy dit? Ons wys drie maniere.

1. Die bandtang

Die bandtang is doelgemaak om ’n band van ’n velling af te kry. Van die twee plat punte is een verstelbaar sodat jy dit vir verskillende groottes vellings kan gebruik.

Op sy plek. Sit eers die band plat neer en die twee punte aan weerskante teenaan die spanrand en velling.

Trek hom. Dan, terwyl jy die band vastrap en die boonste hefboom vashou, druk jy die ander hefboom met mening afwaarts – dit sal die spanrand weg van die velling af laat spring.

2. Die hoogligdomkrag
Die hoogligdomkrag

’n Hoogligdomkrag aan jou dakrak wys jy’s ’n recce en jy’s rof. Maar ’n ander nuttige gebruik vir dié swaar stuk yster is om ’n band van ’n velling af te druk. Onthou net, die hoogligdomkrag se voetstuk kan die sywand beskadig; hou maar ’n ogie daarop. En wees versigtig – dié meneer se handvatsel kan jou katswink slaan.

Die regte lyn. Sit die band voor of agter die voertuig onder ’n hoogligdomkragpunt sodat slegs die sywand onder die voertuig insteek.

Voetrus. Sit die hoogligdomkrag se voetstuk op die sywand, reg teenaan die velling se randjie.

Gebruik “dom” krag. Werk nou die hefboom sodat die voetstuk die spanrand van die velling af wegdruk.

3. Die voertuig

Die volgende metode is slegs vir ’n noodgeval, want jy kan ’n band se ryvlak permanent beskadig as jy dit knak. Jy kan bloot die wiel plat neerlê en met die gewig van jou voertuig die band se spanrand van die velling af trap.

Kry die lyn. Sit die band voor jou ryding neer, in lyn met die voorste wiel. Maak net seker die wiel sal net oor die band loop en nie oor die velling ook nie.

Laestrek, meneer. Sit jou ryding in laestrek en ry stadig oor die sywand van die band terwyl iemand langs die voertuig vir jou beduie wat om te doen. Die voertuig se gewig sal dan die spanrand van die velling af wegdruk.

Haal die band af

Bandomruil

Sodra die spanrandsluiting op albei kante van die band en velling verbreek is, kan jy voortgaan om die band heeltemal af te haal. Hiervoor het jy twee of drie bandligters en ’n rubberhamer nodig.

Op die velling, tussen die twee flense, is ’n bandsloot (drop well) wat reg rondom die velling loop. Hierdie sloot sit nie reg in die middel nie, maar meer na een kant toe (gewoonlik dieselfde kant as die bandklep).

Jy begin altyd ’n band van hierdie kant af afhaal. Laat die band plat op die grond lê met die bandsloot na bo en maak jou reg om te sweet.

Slaan met ’n rubberhamer.

1. Sê aaa! Druk die plat punt van die bandligter tussen die spanrand en die velling in en hefboom die bandligter totdat hy plat bo-op die velling lê. Die idee is om die spanrand van die band bo-oor die lip van die velling te lig.

2. Nommer twee. Druk die tweede bandligter langs die eerste een in en begin stelselmatig die spanrand bo-oor die velling se rand lig. Met drie bandligters is dit heelwat makliker.

3. En herhaal. As jy die een kant van die spanrand oor die velling gelig het, kan jy met die ander kant begin om die band heeltemal van die velling af te kry.

Die eerste stap is om die band regop te laat staan. Die velling hang nou grootliks buite die band – druk die bandligter van hierdie kant af tussen die spanrand en die velling in en hefboom die velling uit die spanrand uit.

4. Slaat hom, Pappie! As jy eers een stukkie spanrand van die velling af het, slaan met ’n rubberhamer al op die sywand van die band langs om die band heeltemal van die velling af los te kry.

Sit hom terug

Sit die band terug

Dis nie heeltemal so moeilik om ’n band weer op die velling terug te kry nie. Hiervoor het jy net ’n stewige kompressor (daai special in die ysterwarewinkel gaan nie die mas opkom nie), ratelstroppe en bandligters nodig.

1. Sloot na bo. Sit die velling weer op die grond met die bandsloot se kant bo en sit die band bo-op hom neer. Jy werk dan weer die eerste kant met die bandligters in plek.

2. En die anderkant. As die een kant van die band oor die velling is, begin jy met die ander kant en werk hom ook met die bandligters oor die velling.

Sodra die band terug op sy plek is, moet jy die spanrandsluiting weer in plek kry.

Die maklikste manier is om ’n lekker groot kompressor te gebruik wat lug vinnig in die band pomp.

Almal het nie ’n sterk kompressor nie. Moenie die gevaarlike aanstekervloeistofmetode gebruik nie. Die volgende metode is die veiligste:

3. Strop hom. Sit twee ratelstroppe rondom die loopvlak van die band. Trek hulle styf vas sodat die spanrand oral teen die velling druk.

4. En pomp hom. Dan koppel jy jou kompressor en laat hom pomp. Daar sal ’n klapgeluid wees – jou teken dat die spanrand in sy plek teen die velling ingespring het. Jy kan die oppomp makliker maak deur die klep uit te haal.

WENK

Is hy pap? Haal die bandklep met ’n klepsleuteltjie uit om seker te maak die band is heeltemal afgeblaas voordat jy dit van die velling probeer afhaal.

Glad is goed. ’n Bietjie water of seepoplossing op die spanrand en velling kan dit makliker maak om die band af te haal en weer op te sit. Dit beskerm ook die rubber teen jou ystergereedskap.