Mabuasehube: weet voor jy waai

akkreditasie
Mabuasehube in Botswana, of sommer net Mabua, bly een van die 4x4-gemeenskap se droombestemmings. Hier het die kampplekke geen drade nie en kan jy uit jou daktent sien hoe die diere op die pan water drink. Lesers het hierdie raad gegee as jy ook wil gaan.

Mabuasehube in Botswana, of sommer net Mabua, bly een van die 4x4-gemeenskap se droombestemmings. Hier het die kampplekke geen drade nie en kan jy uit jou daktent sien hoe die diere op die pan water drink. Lesers het hierdie raad gegee as jy ook wil gaan.


Mabua is daai vierkantjie aan die oostelike punt van die Kgalagadi-oorgrenspark in Botswana. Hulle kon dit netsowel die “Mabuasehube-leeupark” genoem het, want hierdie reservaat van 3 900 km² is regte, egte leeuwêreld. Behalwe dat jy ’n uitstekende kans het om Kalahari-leeus te sien, is jou kans nóg beter om ’n paar van nader te leer ken.

Baie lesers kan vertel van leeus en luiperds wat sommer in die kampplek kom inloer.



Hoekom moet jy gaan?

Die gras staan geil in die reëntyd en die foto regs is Mabua in die winter.

  • Jy sien gewoonlik min ander besoekers en is heeltemal op jouself aangewese. Neem dus álles saam wat jy gaan nodig kry – ook water vir drink en stort.

  • Dis heeljaar lekker om Mabua te besoek, maar in die droë seisoen (Mei-November) is dit makliker om diere te sien wat na die panne beweeg.

  • In die reënseisoen is die wêreld groener, maar kruip die diere makliker in die gras weg.



Die pad tot daar

Die pad tussen Tsabong en Mabuasehube.



  • Daar is hoofsaaklik drie toegangsroetes: Via ’n 4x4-roete van Nossob af in die Suid-Afrikaanse kant van die Kgalagadi, van Tshabong in die suide van Botswana af, of via ’n kaplyn van Kokotsha af as jy uit Gauteng uit kom. Tshabong is sowat 27 km van die McCarthy’s Rest-grenspos. Hier moet jy vir oulaas brandstof volmaak.
  • Die 112 km lange sandpad noord van Tshabong af na Mabua kan in die droër tye diep-sanderig wees.
    As jy uit Gauteng kom, kan jy via Gaborone of Lobatse ry en dan by Mabua kom langs ’n 120 km lange kaplyn van Kokotsha af. As jy dié roete volg, moet jy brandstof by Sekoma volmaak. Op party plekke is die Tshabong-Mabua-pad vier verskillende spore, en op ander net een spoor, terwyl die res van die pad toegegroei is met gras.


Links is die Mabuasehube-pan en regs die hek na Mabua


Temperatuur

In die winter kan die temperatuur ver benede vriespunt daal. Dit kan ook uitermate warm raak in September en Oktober.


Watter geriewe kan jy verwag?

Jy het ’n keuse van sewe kampplekke, met Lesholoago die noordelikste en Bosobogolo die suidelikste kampplek, sowat 40 km uitmekaar. Die kampplekke is almal by panne geleë.

Die kampplekke het puttoilette en A-raam-afdakke. Water is nie oral beskikbaar nie.


Die kampplek by Mabuasehube-pan.


Wat kan ek doen?

As jy ware eensaamheid en afsondering wil ervaar, pak die 155 km lange Mabuasehube-wildernis-4x4-roete van die Malatso-pan af na Nossob. Twee dae en een nag word toegelaat om dié eenrigting-sandroete te voltooi. Die roete moet vooraf bespreek word en slegs een groep (van nie minder as twee voertuie en nie meer as vyf voertuie nie) word per dag toegelaat.



Pak in

  • Onthou… jy steek ’n internasionale grens oor en moet jou paspoort by Twee Rivieren gereed hou.
  • Wees heeltemal selfversorgend – drinkwater, brandstof, kos, slaapplek, hout, ens. ’n Stewige boete word gehef as jy brandhout in die reservaat optel.
  • Neem soveel as moontlik plakgoed en smeergoed en drinkgoed saam wat in jou noodhulpkissie kan pas. Die naaste hospitaal is ver.
  • Dis ’n goeie plek vir ’n satellietfoon.
  • Neem soveel spênners en tange saam as wat jy self kan hanteer.



Wees hiervoor versigtig…

  • Roof- en aasdiere besoek soms die kampplekke. Bêre dus kookpotte en kos binne die voertuie of in tente. Die jakkalse sal ook jou plakkies wegdra as jy dit buite die tent los.
  • Wees altyd paraat in die reservaat – daar kan oral en altyd ’n roofdier wees.
  • Wees ook paraat op die paaie buite die park – daar is dikwels beeste, donkies, bokke en perde wat los rondloop, en die paaie se toestand kan baie misleidend wees en wissel van tyd tot tyd.
  • Maak seker van jou staanplek – veral as die A-raam-skuilings nie gemerk is nie.


Sou jy nader gestaan het?


Waar bespreek ek?

Stuur ’n e-pos aan dwnp@gov.bw. (Die besprekingskantoor in Gaborone open reeds om 07.00.)

As jy dít gedoen het, onthou die volgende:

  • Bewaar jou besprekingsnommer;
  • Jy moet ’n deposito betaal;
  • Geen geld word by die reservaat se ingangshek betaal of ontvang nie; S
  • Skakel weer die besprekingskantoor voordat jy vertrek om seker te maak jou papierwerk is in orde.



Hou byderhand

* Noodnommer in die park: +27 (0) 54 561 0021
* Of faks: +27 (0) 54 561 0026