Twee keer deur die Doodsakker in drie dae

akkreditasie
Uit die argief: Die Doodsakker, daardie veradderlike strook kuslyn in Angola wat jou teen die duine vasdruk, bly een van die ikoniese bestemmings in Afrika. Dolf Els het dit sommer twee keer in drie dae gery. Hy vertel sy storie.

Die nou skeur voor ons is só diep dat jy skaars die bodem met die blote oog kan sien. Dis laatmiddag en die ondergaande son verf ryk kleure en diep, donker skadu’s teen die loodregte kranse wat onder jou voete aftuimel. Dit is ’n duiselingwekkende 1 200 meter tot op die vlakte doer onder.

Ons staan op die uitkykpunt met sy muurtjie reg op die rand van die afgrond van Fenda da Tundavala, ’n kolossale vulkaniese bergskeur op ’n plato 2 600 m bo seevlak naby die stad Lubango. Afrika-reisigers wat al in Angola was, weet dat die Lubango-omgewing in die provinsie Huíla een van die interessantstes is. Hier het jy ’n dag of twee nodig om by al die mooi en historiese plekke uit te kom.

In ’n omtrek van ’n paar kilometer kry jy Tundavala, die Lebapas, een van die mooiste passe wat ek al gesien het, die Huíla-waterval, die ikoniese Cristo Rei-beeld op die berg bo die stad, en by Humpata die nalatenskap van die Dorslandtrekkers.

Francois Marais van Voetspore-faam het onlangs ’n klompie vriende op ’n kort toer na die suide van Angola geneem. Ek en Hein Truter van Swakopmund het die vorige dag Lubango toe gevlieg en die omgewing verken voordat ons by hulle aangesluit het.

Die Tundavala.

Vooruitgang

Mens kan sien toerisme in Angola stadigaan aandag kry. Met ’n besoek in 2009 aan Tundavala het die verspoelde tweespoorpaadjie bergop tussendeur honderde groot blougrys granietblokke gekronkel. Toe ek 18 maande later weer daar ry, was die hele 18 km ’n breë, geskraapte grondpad en is van die rotsblokke uit die pad gestoot.

Nou is die pad geteer en die laaste paar kilometer met klein, hobbelrige steentjies geplavei – dis amper erger as sinkplaat! – tot by ’n netjiese, groot parkeerterrein.Die aarde het hier oopgebars en op ’n mooi dag kan jy ver verby die dorpie Bibala kyk na waar die Namibwoestyn by Namibe aan die kus begin.

Dis nou rustig, maar amper 40 jaar gelede, gedurende die burgeroorlog, het soldate van die regerende MPLA andersdenkendes hier geskiet en in die skeur afgegooi.

Ons gids, Francisco Candieiro, vertel van ’n voorval toe 25 politieke gevangenes van die tronk by Bentiaba hierheen gebring, geblinddoek en een vir een geskiet is. Om die een of ander rede het die bevelvoerder besluit om die teregstellings te stop toe net een oorbly. Dié arme man, buite homself van vrees, is vrygelaat en woon in Namibe, sê Francisco.Op pad terug Lubango toe draai ons by die Restaurante Tundavala af na die mooi waterval onder die keerwal in die rivier. Stap oor die sementwal tot aan die ander kant en dan af ondertoe met ’n kronkelende voetpaadjie vir die beste uitsig.

Die wit waterstroom gly trapsgewys ondertoe oor die roesbruin rotsblokke voordat dit oor ’n afgrond van 40 m tuimel. Die hoë rotsmuur oorkant lyk of dit met groot geelbruin blokke gebou is. Die struike en bome wat in die skeurtjies klou, klim in breë groen strepe tot heel bo.

Dorslandtrekkers

Dit is al sterk skemer toe ons terugkeer. Op die bergrand hoog bo Lubango waak die Cristo Rei-beeld met uitgestrekte arms oor die stad. Dié wit marmerbeeld van 30 m is die kleinste van drie soortgelyke beelde. Die ander is in Rio de Janeiro en in Lissabon.

Die Cristo Rei-beeld.

Ook hier het die verwoestende burgeroorlog sy merk gelaat. Die dorpie Humpata, 20 km buite Lubango, het ’n sterk Suid-Afrikaanse verbintenis. Hiér in die vrugbare gebied het die Dorslandtrekkers in 1881 ná hul vele ontberings wortelgeskiet en ’n beduidende rol in die plaaslike gemeenskap gespeel het.

Aan die rand van Humpata ry ons verby ’n verweerde dik muur van klip en klei onder ’n imposante boomlaning – waarskynlik ook die ou trekkers se werk – tot by die gedenkteken. Dit is in Julie 1957 opgerig toe ’n huldigingsfees hier gehou is.

Onder op die eenvoudige grys naald dui ’n mosaïekkaart die roete aan waarlangs soveel lewens op hul uitmergelende tog van die ou Wes-Transvaal (Noord-Wes) af opgeoffer is.

Net ná middagete ry ek en Hein terug na die begraafplaas waar Francois se toergroep intussen aangekom het. Hier is heelparty hengelaars en hulle is haastig om by Flamingo Lodge, aan die kus suid van Namibe, uit te kom, waar die groot kabeljoue, elwe en leervisse wag.

Poskaartmooie pas

Eers is daar nog ’n móét-stop: sowat 10 km buite Humpata op die Namibepad is ’n uitkykpunt op die hoë plato oorkant die uitsonderlike Lebapas. Dit kartel in tientalle skerp haarnaalddraaie van die plato op 1 845 m teen die berg af tot op seevlak.

Hein se GPS wys ons daal draai-draai ondertoe in ’n skrale 12 km. Volgens oorlewering is die pas in die vroeë 1970’s deur ’n Portugese vrou ontwerp en gebou, en is sy dood die dag toe dit voltooi is en sy dit gesien het.

Die pastelkleure op die massiewe rotsmure wat aan die een kant tot ver onder in die vallei uitgekerf is, die hoë watervalle en die berge in die verte agter is skilderagtig mooi.

Die Lebapas.

Dit is reeds sterk skemer toe ons sowat 45 km suid van Namibe in die droë loop van die Rio dos Flamingo afdraai kus toe, Flamingo Lodge toe. Dan is dit tandeknetter-sandsinkplaat vir die 23 km tot waar dié lodge se houthuisies teen hoë sandsteenriwwe teenaan die branders staan.

Die volgende oggend het die hengelaars hul lyne al vroeg in die water. Flamingo is bekend as ’n hengelparadys, maar het ook sandsteenformasies wat oor die eeue deur wind en water in kunswerke omgetower is.

Ek en Hein ry saam met Flamingo se eienaar, Rico Sakko, na die ravyn naby die lodge. Rico is ’n boorling van Garies en steeds ’n Namakwalander in murg en been, al is hy sedert 1997 in Angola doenig met sy lodges. Benewens Flamingo Lodge het hy ook een suid van Luanda aan die Kwanzarivier.

Die ravyn se hoë wande met hul pastelkleure lei jou al dieper tot waar dit in ’n kom bymekaarkom en ’n natuurlike amfiteater vorm. Bo dié platform styg ’n reuse-agtergrondgordyn in geel, oranje en pienk lae tot waar dit teen die lug verdwyn.

Die sandsteenformasies by Flamingo Lodge.

Die Doodsakker

Miljoene jare gelede was dit alles onder die see, sê Rico. As jy die klippe van nader bekyk, sien jy gou versteende mossels raak, hul skulpe perfek in geel sandsteen verewig.

Op ’n vorige besoek vier jaar gelede het ek ’n draai by die Arcomeer in die woestyn naby Tombua gemaak. Dié waterparadys met sandsteenformasies het gewemel van ’n ryke voëllewe.

Dis ’n groot teleurstelling toe Rico sê die reuse-meer is nou ’n dorre sandkol in die woestyn. Die Curocarivier, wat die meer voed as dit in die reënseisoen afkom, het die laaste paar jaar nie water nie en het opgedroog.

Maar die toer se volgende hoogtepunte lê voor – ’n rit deur die Doodsakker op pad na Foz do Cunene aan die Kunenemond, sowat 230 km van Flamingo Lodge af, en ’n besoek aan die verlate vissersdorpie op die eiland in Baía dos Tigres (Baai van die Tiere). En vir die hengelaars, natuurlik nóg meer en groter kabeljoue!

Vroeg die volgende oggend ry ek en Hein saam met Rico om te gaan kyk of die Doodsakker die volgende dag rybaar gaan wees. Dis ’n dun strandstrook van sowat 60 km onder die hoogwatermerk al langs hoë duine wat plek-plek tot amper in die see loop.

Dit is gevaarlik en is net met laagwater rybaar, want as die gety inkom, staan die duine in die branders en is hier geen ontsnaproete nie.

Benewens verraderlike sinkgate waar modderpoele met ’n dun laag sand bedek is, is daar plekke waar rotse op die strand jou pad versper as hulle nie onder die sand toegespoel is nie.

Jy kan die Doodsakker net met laagwater ry.

’n Paar van die Pretoria-manne besluit om saam met ons te ry om te kyk of “die klippe oop is” – Eddie Williamson en Isak van Heerden in sy Cruiser en Francois Marais en sy seun, Juan, in hul Voetspore-Amarok.

Dit is juis by dié klippe waar die Voetspore-span se voertuie en toerusting in 2008 amper deur die see gevat is. Francois wil gaan kyk waar sy makkers amper groot teenspoed opgetel het (hy was nie destyds saam nie).

Wrakke langs die kus

“Die klippe is oop, ons ry hom môre,” kondig Rico dié aand tot almal se verligting aan. Ons vertrek die oggend is so beplan dat ons teen laagwater in die Doodsakker sal wees. Dis Vrydag die 13de en die grappe oor die radio’s het ’n senuagtige ondertoon. Iemand haal Tracks4Africa se beskrywing aan: “Uiters gevaarlik.” En voeg by: “Totale malligheid.

’n Paar kilometer voor Tombua swaai ons van die teerpad af die woestyn in, verby die groot, verwaarloosde begraafplaas. Tydens ’n vorige besoek het ons in die dorpie brandstof ingegooi. Die polisie het ons amper twee uur lank vertraag toe een elke detail in almal se paspoorte met ’n potlood in ’n ou skooloefenboek aangeteken het.

Ons ry met ’n wye boog om Tombua tot waar die wrak van die Vanessa Seafood sowat 25 km suid van die dorp op die strand lê. Dié vistreiler van Miami het op sy nooiensvaart gestrand.

Die wrak van die Vanessa Seafood.

Hiervandaan is dit heelpad strandlangs en deur die Doodsakker tot by die Kunenemond. Ons ry verby nog ’n wrak, die Consortium Alfa, in die vlak water.

Rico is ’n ervare gids en sy tydsberekening maak die Doodsakker ’n makkerige dog opwindende strandrit.

Die dik mis wat oor die see instoot, verhoog die onherbersame gevoel. Dit laat die hoë duine en die smal strandspoor voor ons in ’n wasige wolk in die branders wegsmelt en vou die pad agter ons in ’n yl wattekombers toe.

Op plekke raak die strand skraal en ons glip tussen hoë, geelbruin sandmure en branderskuim deur wat met wit tongetjies aan die wiele lek.

Soms moet jy effens terughou waar versteende sandsteen onder ’n hoë duin tot op die nat sand uitgekruip het, en dan vinnig laat waai as die see terugtrek. Dis dié dele waar die adrenalien-naald so wil-wil rooi se kant toe mik.

Baai van die Tiere

Teen tienuur die oggend is ons halfpad deur die Doodsakker en stop in Baía dos Tigres – die lang baai sowat 90 km van Foz do Cunene. In ’n diep kom tussen hoë duine slaan ons kamp op. Môre sal ons verder ry, want ’n ander sending moet nou eers afgehandel word.

Terwyl die adrenalien nog pomp, stoot ons ’n rubberboot in die water en verdwyn amper dadelik in die mislaag wat laag oor die see lê – die mikpunt op die GPS ’n verlate eiland in die baai sowat 10 km van die kus af. Net toe ons begin wonder of ons van koers af is, sien ons eers ’n geel kerktoring en dan nog geboue in die mis.

By die Baia dos Tigres word daar kamp opgeslaan.

Die eiland, ’n sandbank wat soos ’n lang vinger al langs die kus strek, was eens deel van die vasteland. Dié vissersdorp het eensklaps ’n spookdorp geword toe die Portugese met die politieke woelinge einde 1974 gevlug het. (Lees meer oor dié uitstappie hier.) 

Met die terugrit dryf die wind die golwe teen die boot vas en spat die skuimwater kort-kort oor ons. Dié keer mik ons sekuur land toe na waar die swart strepe teen die geel duine deur die mis dring – die “tierstrepe” waaraan die baai sy naam te danke het.

Verlate Foz do Cunene

Die wind het intussen al die krane oopgedraai, asof hy wou bevestig dat Foz do Cunene se eintlike naam “die windfabriek” is. Die kom tussen die duine bied min skuiling en ons fladderende tente flap heelnag in die wind.

Vanoggend lê die laaste stuk van die Doodsakker voor op pad na die Kunenemond. Rico en ’n paar manne wat nie die vorige dag saam is nie, stoot weer die rubberboot in die water eiland toe terwyl die res van die groep solank ry.

Ná ’n onstuimige vaart al langs die eiland af, sluit ons weer by die voertuie aan. Toe is dit verder strandlangs tot by die Kunene.

Dit is met ’n gevoel van ontsag, maar ook bewondering wat mens op die nat strand staan waar die magtige Kunene hom met ’n sterk vloeiende stroom breed in die Atlantiese Oseaan tuismaak. Oorkant is dit ’n see van sand waar Namibië se Namibduine teen die rivier tot stilstand kom.

Aan dié kant streep ’n blougroen strandmeer met sy ryke voëllewe tot teen die rivier. ’n Kolonie pelikane sit in ’n lang, dik streep afgewit teen die bruin sandbanke, met ’n ent verder ’n swart streep witborsduikers.

Ons sien nie een van die berugte Kunene-krokodille nie, net seeskilpaaie wat hul koppe deur die golfies druk. Rico vertel dat van die krokodille soms so ver die see ingespoel word dat hulle kilometers strandop eers uitkom. Hy het eenkeer ’n skaars foto ’n paar kilometer van die mond geneem van ’n krokodil wat deur die branders op die strand uitgeloop kom.

Later kronkel ons tussen plate swart granietrotse in die geel sand deur na waar die Foz do Cunene-pompstasie soos ’n spookhuis op ’n breë draai in die rivier sit. Voor die Portugese ook hier padgegee het, is vars water met ’n pypleiding sowat 90 km na die eiland in Baía dos Tigres gepomp.

Die verlate Fos du Cunene-pompstasie.

Die pompstasie met sy handvol huise is sowat 6 km van die mond en onderweg ry ons verby springbokkies wat byna heeltemal met die omgewing saamsmelt.

Die Angolese het ’n polisiepos hier met ’n paar manskappe en ’n bevelvoerder, maar alles is erg verwaarloos en vervalle. Rico het twee van die huise laat skoonmaak en die badkamers en slaapkamers ingerig. Dit is ’n welkome verandering om in ’n bed te slaap.

Koningskos en kabeljou

Dié aand eet ons weer vars vis, danksy die hengelaars in die groep en ons vernuftige kok, Marcos Gangula, en sy helper, Mateues Gomez. Hulle sorg elke dag vir heerlike kos, met vars vis elke keer een van die geregte, telkens op ’n ander manier berei.

Die volgende oggend staan ek op die stoep en kyk hoe die son blink strepe oor die donker rotse maak en op die rivier weerkaats. Aan die oorkant kleur dit Namibië se duine in ’n gloed wat tot in die Kunene se blou water spoel.

’n Spikkel op die sandsee word algaande ’n springbokkie wat stadig teen die duin afstap water toe, sy spoortjies soos ’n streep miere agter hom in die sand.Ons oornag twee nagte by die pompstasie en die hengelaars het hul lyne heeldag in die water. Selfs nie eens die berugte wind blus hul geesdrif nie. Annette Koorts van Swakopmund, trek die een kabeljou na die ander uit.Selfs die rooijakkalse in die omgewing kom deel in die pret.

Een waag dit tot sowat 20 m van die voertuie waar ’n klomp seemeeue oor ’n klein seebabertjie baklei wat aan ’n hoek beland het en nie teruggegooi kon word nie. Voor die meeue eenstemmigheid kan bereik, draf jakkals windaf met die vissie in sy bek.

Die Maandagoggend is dit mistig toe die konvooi vroeg terugstreep strand toe vir die opwindende terugrit Flamingo Lodge toe, van waar die groep oor Lubango sou terugry grens toe. Maar eers het die Doodsakker weer voorgelê.Soos Francois sê: “Dis seker net ’n handvol mense wat kan sê hulle het die Doodsakker twee keer in drie dae gery.”

Of, soos ons klompie wat gaan kyk het of die klippe oop is, twee en ’n half keer in drie dae.

Die Doodsakker....twee keer in drie dae.

  • Die beste tyd om te gaan is Mei tot Oktober, wat buite die reënseisoen is.
  • Jy het beslis ’n 4x4 nodig vir die Doodsakker.
  • Mense verskil oor die noodsaaklikheid van ’n gids vir die Doodsakker. Dolf beveel dit aan.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry #64 (September 2014) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.