Die môrestond sit goud in die mond

akkreditasie
Om vroegoggend met vakansie te vertrek is anders as enige ander reis, en herinneringe daaraan maak 'n mens sommer terug verlang na jou kinderdae toe jy nog agter kon lê en slaap. Kobus Prinsloo vertel...

Henry A. Wallace, wat tot in 1944 Amerikaanse visepresident was onder Franklin D. Roosevelt, het eenmaal gesê die enigste ding in die lewe waarvan ’n mens kan seker wees, is verandering.

Ons weet almal dis waar – dink maar net aan Michael Jackson se gesig. Ongeveer honderd jaar voor Wallace het die Franse skrywer Alphonse Karr gesê hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Dis ook waar – dink maar net aan Riaan Cruywagen se gesig.

Vreemd genoeg is dit nie soseer die konkrete dinge in die lewe wat dieselfde bly nie, maar eerder die ontasbare goed, soos herinneringe en gewaarwordinge.

Dink byvoorbeeld hoe dit in jou kinderdae was om vroegoggend met vakansie te vertrek. Jy is net voor die wegtrekslag wakker gemaak, en dan sommer in jou pajamas – met jeuk-oë en jou gunstelingkussing in jou arms – so half skuins teen die agterste passasiersdeur sitgemaak. Terwyl die kar al luier. Onthou jy?

Jy is net voor die wegtrekslag wakker gemaak, en dan sommer in jou pajamas – met jeuk-oë en jou gunstelingkussing in jou arms...

Dis snaaks hoe ’n mens sulke dinge onthou. Dis nie dieselfde soort onthou as die datums wat jy in die geskiedenisklas geleer het of die pizzaplek se telefoonnommer nie. Dis eerder ’n soort sintuiglike prentjie wat jy iewers in jou onderbewussyn bêre.

Jy het dit nie eens in daardie stadium besef nie, maar al was jy nog in ’n benewelde droomwêreld, was jou sintuie wawyd wakker, en jy het alles om jou ingeneem.

’n Mens onthou dit net as iemand jou daaraan herinner, of as jy jou weer in soortgelyke omstandighede bevind.

Deesdae is dit jy wat die kinders op die agtersitplek inprop met hulle pluisstofkombersies.

Dit was nog donker toe jy vanoggend opgestaan en begin werskaf het, maar nou, hier buite, is die oostelike  horison ’n sagte persblou belofte; wes is die sterre nog aan ’t flonker. Dis asof ’n mens iewers tussenin – heeltemal los van die dag en nag – jou laaste goedjies inpak.

Dis só vroeg selfs die lug ruik nog vars en skoon. Jy ruik die klam dou op stof en die mosreuk van die vlei langs die woonbuurt, dinge wat ’n mens net op oggende soos dié oplet. Die dampe van die loodvrye petrol terwyl die kar luier, ruik nog nes die ’97-Super waarvoor jou pa destyds 47c per liter betaal het toe hy die aand voor julle vertrek die Datsun volgemaak het.

Vandag is dit jý wat agter die stuur inskuif. Jy begin stadig uit jou erf ry. Die oomblik voel amper gewyd. Sonder dat jy dit besef, luister jy vir die krake en klanke as die haak en die woonwa en die motor mekaar met die eerste tekens van momentum begin verstaan.

Die middelpunt van balans skuif na iewers agter jou sitplek, en dit voel amper asof jy self besig is om die gewig te trek. Jy vorder teen kruipspoed tot by die laaste knikkie waar jou oprit en die straat bymekaarkom. Die windjie by jou oop venster in is koel. Regsdraai in die straat in is ’n stadige proses; eers wieg jou kar so effe sywaarts oor die oprit se randjie en dan volg jou wa met dieselfde klein waggeltjie.

Jy hou versigtig jou oog op die spieëltjies (en jou ore oop vir klanke van onheil). Dis soveel anders as elke oggend se breindood werktoejaery uit dieselfde oprit.

Sodra alles mooi in lyn is, begin jy versnel.

Van al die versigtigheid trap jy só liggies op die petrolpedaal dit voel asof daar eers ’n enorme speling is voor die enjin antwoord gee. Dan oorwin jy en jou enjin saam die kragte wat jou by die huis wil hou, en meteens voel alles ligter.

’n Ent voor die stopteken aan die einde van jou straat lig jy jou voet van die versneller af en voel hoe die massa moeiteloos vorentoe gly. Die wa agter jou gee so ’n hupstootjie en jy toets die remme liggies.

Jy moet immers hierdie byna lewendige ding – wat bestaan uit voertuie, veranderlikes, mense, bagasie én die balans tussen al dié dinge – beheer, al die pad kampplek toe. Jy moet dit so veilig as moontlik en so goedkoop as moontlik doen, maar ook vinnig genoeg om te keer dat ’n onbenullige twis in die kar ’n burgeroorlog word.

Die kafee op die hoek is nog toe. Die verkeerslig is rooi. Agter jou wasem oggendstoom nog effens uit die kar se uitlaatpyp, rooi gekleur deur jou remligte.

Die verkeerslig word groen, maar dié tyd van die oggend kyk ’n mens maar twee keer links en regs. Vanoggend is daar niemand op die pad nie. So stadig as wat jy wil, draai jy regs in die hoofstraat in.

Dis ’n halwe kilo of so na die snelweg se oprit, genoeg tyd om die stuurwiel se speling te voel. Jy draai die stuurwiel amper onsigbaar, tot net daar waar hy vat. Die subtiele momentumskuif van links na regs is net-net vir jou voelbaar, maar só gering dat die kinders se koppe nie eens wieg in die truspieëltjie nie.

Koester dit, tot iemand anders daar van agter af vra: “Hoe ver nog?”

Die oprit se links-swenk moet ’n mens so egalig as moontlik aanpak. Jy moet spoed optel, want geen mens wil eers op die snelweg begin soek na spoed nie. Maar jy wil ook nie enige van die slapende siele wakker maak nie. Een deel van jou brein is bewus van jou kar se petrolverbruik, van die gewigtige wa, die verandering in padoppervlak en die onsigbare hand wat terugtrek as jy versnel om op die snelweg te kom.

Die ander deel is bewus van die lig wat oor almal se gesig val as die son agter die horison uitkruip. Dis ’n lekker gevoel as die son oor alles breek en jy kan getuig van goeie vordering. Jou beplanning, vroeg opstaan en vroeg wegkom werp nou vrugte af. Kinders reis nooit maklik nie, maar om ver te kom terwyl hulle nog diep in droomland is, is goud werd. Vir jou én vir hulle. Die honger, dors en ander liggaamsfunksies sal hulle eers hier teen die derde 1-Stop op jou pad wakker maak. Dan sal hulle so in die ry, met die son wat by die kar inskyn, hulle oë op skrefies oopmaak en vir ’n kort rukkie net by die venster uitstaar, asof die credits van die pasafgelope droom nog rol terwyl hulle uitpluis waar hulle is.

Maar vir nou is dit net jy en die stil kar met die vooruitsig van ’n lang, rustige reis voor jou. Geniet dié besonderse geleentheid wat hierdie deel van jou reis jou gee.

Nou het jy tyd om jouself net met jou eie gedagtes te bemoei en jouself in die stilligheid op die skouer te klop omdat jy dit wrintiewaar uiteindelik reggekry het om vroegoggend met vakansie te vertrek, op die tyd wat jý bepaal het.

Koester dit, tot iemand anders daar van agter af vra: “Hoe ver nog?”