Deel

Mamma, waar's die pleisters?

akkreditasie
Wees voorbereid op pyne, skete en seerplekke wat op ’n kamp kop kan uitsteek. Hier is voorstelle van items wat jy in julle gesin se noodhulptassie kan pak.

1. PLEISTERS

Soen dit beter...

As jy wil hê ’n sny of skraap moet gou gesond word, plak dit toe met ’n pleister. Dit beskerm jou nie net teen infeksies nie, maar hou ook die wond klam, wat help om nuwe selle te laat groei. Die meeste pleisters is beskikbaar in ’n verskeidenheid van vorms en groottes.

2. GAASWATTE

Gee eers ’n onderlaag

Gaasmateriaal is losweg geweef met klein gaatjies, wat beteken dit sal waarskynlik minder aan ’n oop wond vasklou as gewone materiaalstowwe wat fyn geweef is. Sny ’n vierkant uit om skaafplekke te beskerm voordat jy ’n verband aansit.

3. ’N SKÊRTJIE

So ’n klein snip!

Afgesien van die voor die hand liggende gebruike – soos om verbande te knip – is ’n skêr ook nuttig by ’n ernstige ongeluk waar jy die pasiënt se klere moet afsny om by ’n besering uit te kom en hulle in te veel pyn verkeer om self hulle klere uit te trek. Jannie sal jou vergewe as die knipwerk hom uit sy penarie kan help.

4. ONTSMETTINGSMIDDEL

Dit gaan ’n bietjie eina maak…

Gebruik dit om oop wonde skoon te maak voordat jy ’n pleister of verband aansit. Dit steriliseer die beseerde deel en help om die bakterieë wat infeksies kan veroorsaak uit te hou. Die vloeistof help ook om gruis of ander vuilgoed uit die wond te spoel. Dit kan ’n bietjie seer wees om die beskadigde vel hiermee skoon te maak, want die ontsmettingsmiddel brand, maar dis noodsaaklik as jy wil hê die wond moet vinnig en veilig genees.

5. HAARTANGETJIE

Knyp hom vas

Dis nuttig om dorings en splinters uit te trek. ’n Splinter wat diep vassit, kan jy eers met ’n naald probeer loswikkel. 

Die beste is ’n spuitnaald, omdat hulle ongelooflik skerp is – en, belangrik – in ’n steriele verpakking kom. 

6. CRÊPEVERBAND

Kry ’n tweede verband

Hulle is lank en dun (gewoonlik sowat 10 cm breed) en word gemaak van ’n rekmateriaal,  sodat dit maklik om arms en bene gedraai kan word. Gebruik die verband om groot, oop wonde en skrape te bedek nadat jy eers gaasverband opgesit het. Jy kan ook jou enkel hiermee verbind as jy skeef getrap het.

7. PYNSTILLERS

‘Neem twee en bel my môre’

Dis onontbeerlik vir die behandeling van algemene pyne soos kopseer en ’n seer keel – en dit help ook om koors te verlaag. Omdat aspirien nie vir kinders aanbeveel word nie, is dit beter om Panado in te pak. Vir erge pyn sal jy ’n sterker pynstiller nodig hê, maar jy kan dit nie oor die toonbank koop nie. Vra jou dokter om vir jou ’n voorskrif te gee as jy na ’n afgeleë streek op pad is.

8. DRIEHOEKVERBAND

Slingervel

Jy gaan ’n sling nodig hê om ’n gebreekte arm of sleutelbeen stil en op sy plek te hou. Die maklikste manier om in ’n noodgeval een te prakseer is met ’n driehoekverband. 
Laat die beseerde ledemaat in die middel van die verband lê en knoop die ander twee hoeke van die driehoek agter die pasiënt se nek vas. 

9. LATEKSHANDSKOENE

Nou’s daar g’n vingerafdrukke

Dis veral noodsaaklik as jy met ’n oop wond werk. Nie net beskerm handskoene die pasiënt teen enige kieme op jou hande nie, maar dit keer ook dat jy met bloed op jou hande sit...

10. TEENSUURTABLETTE

Kou ’n padkospepermentjie

Jy’t geweet jy moenie daai pies langs die pad koop nie, maar hulle het darem net te lekker gelyk, en nou sit jy met die gebakte pere. Dis ’n tipiese vakansiekwaal, en daar is verskeie teensuurprodukte op die mark vir sooibrand. Goeie ou Rennies is goedkoop, doeltreffend en sal nie klonterig raak of uitdroog as dit lank in die noodhulpkissie lê nie.

11. REHIDRASIESAKKIES

Lawe jou met soute

As jy dan nou wel die vorige nag ’n nuwe voetpaadjie tussen jou staanplek en die ablusieblok uitgetrap het op pad toilet toe, is ’n dosis Rehidrat noodsaaklik.
Dié oplossing help om die waardevolle soute te vervang wat jy verloor het. 

12. OOGDRUPPELS

Waarom is jou oë dan so rooi?

Konvensionele soutoplossingdruppels werk vir droë en jeukerige oë, maar Spersallerg is die antwoord vir ernstige oogirritasies. Die antihistamine daarin sal die allergiese reaksie wegvat wat stuifmeel of katte byvoorbeeld veroorsaak. 

13. BRANDPLAKKERS

Sjoe, sjoe, sjoe!

Kyk, dit gaan een of ander tyd gebeur wanneer jy kamp: Jou woelige jongste gaan kaalvoet op ’n kooltjie trap of Pappa gaan ingedagte die warm braairooster met sy kaal hande optel. Burnshieldjelpleisters is wonderlik vir die behandeling van brandwonde. Dit verlig die pyn én verkoel terselfdertyd die wond. 

14. DIARREE

As jou maag jou jaag

’n Omgekrapte maag is nog orraait as jy die dag by die huis kan bly, maar op die langpad is dit ’n minder aangename vooruitsig. Dis dan wanneer jy dié wit pilletjies nader hark. Ander nuttige maagmedisynes is Valoid (vir naarheid) en Buscopan (vir maagkrampe). 

15. SUIGTABLETTE VIR KEELSEER

Amper nes lekkers 

Dis nie werklik noodsaaklik nie, maar goed om in jou tassie te hê. Het jy al met iemand gepraat wat regtig ’n seer keel het? Vra maar: Hulle sal vir jou sê ’n Strepsil het hulle lewe gered. 

Het jy geweet Strepsils help vir ’n toe neus ook? 

16. ANTIHISTAMIENROOM

Dit gaan ’n groot gejeuk afgee

Daar’s gewoonlik goggas waar jy gaan kamp. Anthisan is doeltreffend om insekbyte en -steke te behandel, en ook om allergiese velreaksies te verlig.
Smeer as voorkomende maatreël soggens en saans Peaceful Sleep of Tabard aan.

ONTHOU…

’n Koel, droë plek: Hoë temperature en direkte sonlig kan medisyne beskadig; daarom moet jy jou noodhulpkissie in ’n koel, skadurykeplek bêre (dus nie op jou agtersitplek terwyl jy deur die Karoo ry nie).

Hou die handjies tuis: Jy sal nie toelaat dat klein kindertjies by die huis in jou medisynekassie krap nie; hou dit op reis ook op ’n veilige plek.

Die hoeveelste is dit vandag nou weer? Omdat medisyne nie vir ewig hou nie, moet jy die vervaldatums op al die items nagaan voordat jy met vakansie gaan.

Dis nie al nie...Hierdie lys is die minimum wat jy op jou vakansie moet saamneem. Vul dit aan met medikasie vir asma of allergieë as iemand in jou gesin dit nodig het. Onthou ook om vooraf seker te maak of jy medikasie nodig het vir ’n spesifieke gebied, soos malariapille.

  • Lees ook die artikelKamp veiliger met dié 10 wenke.