Noordwes se lekkerste nes

akkreditasie
By die Honey Nest-kampplek duskant Derby in Noordwes het jy ’n donkie vir warm water, sonkragliggies... en hope stilte.

As ’n mens kyk na al die boswaens en -woonwaens op ons paaie en in kampplekke, lyk dit of hulle by die dag gewilder word. 

Foto's Helenus Kruger

En as ’n kampbuurman vir jou trots sy boswa wys én alles daarop wat kan oop- en toemaak, is dit duidelik só ’n wa is nét die ding vir plekke met min of geen geriewe nie. As jy eers een het, hoef jy omtrent net jou kos en drinkgoed te pak en jy kan die pad vat.

Dit is dus te verstane dat al hoe meer boskampe opskiet wat fokus op boswa- en boswoonwakampeerders.

Net noord van Derby in Noordwes het Fanie en Anene Viljoen onlangs die boskamp Honey Nest op hulle plaas, Honingneskrans, geopen.

Dié kampplek lê in ’n boomryke kloof, ingewig tussen ’n stroompie, ’n rivier en ’n klipkoppie. Die plaas het toenterjare sy naam gekry oor al die byeneste in die omgewing, en die kampplek is sy naam gegee om in te pas by die plaas se naam.

Hierdie is nie jou gewone soort kampplek nie. ’n Groot oop stuk veld – voorheen ’n bewerkte landery – lê voor jou as jy inry, en dit lyk meer na plaas as na oord.

Luukses soos ’n dik mat gras, kampligte, glybaan, lapa en minigholfbaan is hier nié.

Fanie sê hy en Anene is lief vir die natuur en het dadelik die potensiaal van hierdie stukkie grond in die kloof gesien toe hulle die plaas gekoop het. So is die Honey Nest-kampterrein gebore.

“Dis nie altyd moontlik vir kampeerders om gereeld die pad bos toe te vat nie, en daarom bied ons vir hulle iets nader aan die huis. Hier is nie krag nie en ons beplan om dit so te hou. Baie ouens kom ’n paar dae hier staan om in die natuur te ontspan en sommer ook hulle bostoerusting te gebruik en te toets.”

Fanie-hulle het ’n klompie gesoute kampeerders genooi om te kom kyk en raad te gee oor waar hulle kan verbeter. Honey Nest is egter nie slegs vir boswakampeerders nie. Jy kan die grondpad tot hier met jou sedan ry, en as jy stadig sleep, kan jy met jou gewone wa ook hier kom staan.

Met ’n koelboks vol ys vir jou kos en drinkgoed kan jy sonder ’n sonpaneel of yskas klaarkom, en met lopende warm water en spoeltoilette in die kampplek het jy ’n stukkie beskawing in die bos.

Kampplek

Die 11 genommerde kampplekke lê in ’n lang ry langs mekaar by bome aan die rand van die stuk skoongemaakte veld. Jy kamp onder en tussen rooikaree-, swarten witolienhout-, pendoring- en haaken-steekbome. ’n Plaat met ’n heldergeel nommer en ’n prentjie van ’n by daarop wys vir jou waar is jou staanplek.

Die kampplek het nie paaie nie en jy vat sommer die kortste pad oor die stuk veld tot by jou staanplek. Jy hoef nie bekommerd te wees dat jou kar se pens gaan sleep óf dat jou kar gekrap gaan word nie.

Die grond is mooi gelyk en die veldgras kort gesny, en jy ry maklik tot by jou staanplek. Pak jou kamplantern en flits in, want hier is nie ligte in die kampplek nie.

Al die staanplekke, met die uitsondering van nr. 10 en 11, het ’n klein kuierplek tussen die bome. Jou wa kry eers teen die middag se kant skaduwee, maar by jou kuierplek tussen die bome het jy heel-dag koelte.

Staanplek nr. 1-4 lê langs die stroompie, en die kuierdeel is ’n trappie of twee ondertoe, nader aan die water. Die stroompie is ’n groot deel van die jaar droog, maar kom af ná ’n goeie bui reën, sê Fanie.

Staanplek nr. 5-9 is aan die voet van die koppie met die kuierplek effens hoër as die staanplek. 

As jy privaatheid soek en nie ander kampeerders wil sien nie, is staanplek nr. 11, oftewel die “wittebroodstaanplek”, net die plek vir jou, sê Anene. Dit het wel minder koelte as van die ander plekke, maar jy kamp op jou eie met bome en bosse om jou. Dié staanplek is die verste weg van die badkamer af.

Al die staanplekke het ’n braaier en rooster – van hulle ’n geboude klipbraaiplek en ander ’n drom. Elke staanplek het ook sy eie kraan en vullisdrom. 

Die braaiplek in die gemeenskaplike kuierboma met geplante houtstompe rondom is groot genoeg dat jy saam met van die kampbure kan kuier as jy wil. Die ronde geboude braaiplek het groot vuurmaakplek in die middel met braaiplek reg rondom.

Hier is genoeg braaiplek dat jy, jou swaer en ’n kampbuurman almal saam ’n klomp vleis kan braai.

Hier is nou wel nie krag en ligte nie, maar inmaakflesse met sonkragliggies gooi vir jou sagte lig by die kuierplek sonder om die bosatmosfeer te versteur.

Wasplek

Die houtablusiegebou, wat ook die ontvangskantoor huisves, het aparte geriewe vir mans en vroue en is aan die onderpunt van die kampplek regoor die hek.

Jy kan kies of jy onderdak in die badkamer of buite tussen vier mure onder die sterre wil stort. Die mans- en vrouebadkamer het elk drie buitestorte en ’n binnestort. Dis bosbadkamers met houtplankmure, betonvloere en krane wat lyk soos jou tuinkrane. Die wasbakke is klein sinkbadjies. Vir warm water moet jy en jou kampbure ’n donkie stook.

Die buitestorte (90 x 190 cm) is net-net groter as die binnestort (90 x 170 cm) en het baie pakplek, rakkies en hakies vir alles van jou klere tot jou seep. Agter die binnestort se deur is ’n slim opslaanrakkie wat jy moet afslaan om ná jou stortery weer die deur oop te kry.

Dis nou wel ’n boskamp, maar by die twee sinkbadwasbakke is spieëls, pakplek, handewasseep en ’n handdoekreling met ’n handehanddoekie. In die badkamers is sonkragliggies, maar by die buitestorte is die maan en sterre jou enigste lig.

Elke badkamer het twee spoeltoilette, en buite die badkamers is ’n skottelgoedwasbak vir jou vuil borde en koppies. 

Doendinge

Bring jou voëlboek en verkyker saam, want in en om die kampplek is die voëls volop.

Die naguiltjies gesels in die donker en voor sonop raak ’n klomp ander voëls in die bos en bome bedrywig – dit klink of die pietmy-vrou en suidelike waterfiskaal mekaar die stryd aansê om te kyk wie die hardste kan roep.

Die rivierloop aan die suidekant van die kamp is ’n goeie plek om te stap en voëls te kyk. Jy kan sommer ook die bome hier leer ken, want die bome in die kamp en op die staproetes is gemerk.

Jy kan jou fiets op die grondpad tussen die plase trap en die kinders kan die kampplek met hulle fietse platry of op ’n klimraam klouter. Teen die koppie aan die noordekant van die kampplek is drie maklike staproetes wat almal net buite die kamphek begin. Jy volg net die ronde borde met die koedoeprentjies op.

By die selfsorghuis, ’n ent voor die kampplek langs die grondpad, kan jy in die swembad gaan afkoel. Die kampplek kry een van die dae sy eie swembad.

Jy kan by die ontvangskiosk ys, vuuraanstekers, koeldrank en basiese kruideniersware koop.

GPS: S25.843544 E 27.084799

KONTAK 082 222 2313; honeynest.club